Só gaan die koalisies in RSA gevorm word
Minderheidsregerings op plaaslike owerheidvlak sterk moontlikheid
Theuns Eloff - Later hierdie week moet die munisipaliteite en metro’s waar geen party ’n volstrekte meerderheid kon behaal nie (27 landwyd), hul eerste raadsvergaderings hou. Dan moet ’n speaker en daarna ’n uitvoerende burgemeester gekies word.
Om dit te kan doen, moet koalisies vooraf gesluit word sodat die party wat die beheer wil hê, die meerderheid (50% plus een stem) hê.
Daar is kleiner munisipaliteite waar geen volstrekte meerderheid is nie (soos Rustenburg en Thabazimbi) en dit is ook die geval in vier van die ses metro’s: Johannesburg, Tshwane, Ekurhuleni en Nelson Mandelabaai.
In laasgenoemde twee kan die ANC en die DA onderskeidelik ’n meerderheidsregering vorm deur met van die kleiner partye koalisies te vorm; hulle het die EFF nie nodig nie.
EFF hou die troefkaart
In Johannesburg en Tshwane is die EEF belangriker omdat nóg die ANC nóg die DA sonder die EFF kan klaarkom. In Johannesburg benodig ’n party 136 setels om die meerderheid te hê. Hier het die ANC 121, die DA 104, die EFF 30 en kleiner partye saam 15.
In die Tshwane-metro is 108 setels nodig vir ’n meerderheid en hier het die DA 93, die ANC 89, die EFF 25 en die kleiner partye saam sewe.
Watter faktore sal en moet die verskillende partye oorweeg in hul soeke na koalisies in Johannesburg en Tshwane?
Vir die ANC moet dit swaar weeg om verlore prestige terug te wen en hierdie twee stede te bly regeer. Die party het in Johannesburg 32 minder setels as in 2011, en in Tshwane 29 minder. Daarby is die patronaatskap en mag wat in metroregering opgesluit lê vir die ANC belangrik. Die ANC sal ook (nog) ’n kans wil hê om kiesers en ondersteuners te wys dat hy beter kan vaar met dienslewering.
DA wil indruk maak
Die DA sal benewens die prestige om die twee grootste metro’s in Gauteng te kan regeer, ook wil wys dat hy skoon en doeltreffende regering daar kan stel en beter dienslewering kan gee as die ANC. En soos met Kaapstad sal die party die groter prentjie in gedagte hou: As hy hierdie twee metro’s vir vyf jaar kan regeer, sal dit moeilik van hom weggevat word.
Die EFF se oorwegings is minder duidelik. Enersyds praat die party blykbaar met sowel die DA as die ANC oor koalisies, maar andersyds is die retoriek dat nasionale kwessies (soos Zuma se vertrek en grondonteiening) belangriker is as om deel te word van ’n metroregering. Die party se revolusionêre ingesteldheid en wil om te ontwrig, weeg dalk meer as sy drang om deel van ’n koalisieregering te wees. As die party byvoorbeeld die speakerspos in Johannesburg beding, sal sy raadslede nie soos in die parlement kan optree nie.
Kleiner partye sal grootliks die prestige oorweeg om deel van ’n regering te wees, asook die vermoë om ’n verskil in hul ondersteuners se lewens te maak. Maar hulle sal versigtig wees om nie deur groter partye ingesluk te word nie.
Voorwaardes vir koalisie-vorming onduidelik
Oor makrobeleids- en ideologiese kwessies (grondhervorming, swart bemagtiging en ekonomiese beleid) is die EEF en die (huidige) ANC-leierskorps waarskynlik redelik na aan mekaar. Die DA en die EFF is dit weer eens oor dienslewering en hul teenstand teen korrupsie. Die vraag is watter kwessies die EFF as voorwaardes vir ’n koalisie gaan stel. En aan watter voorwaardes sal die ANC en die DA bereid wees om te voldoen?
Indien die partye nie suksesvol in koalisievorming is nie, is dit nie die einde van die wêreld nie, maar dit kan ’n verlammende uitwerking op die twee metro’s hê. Indien geen party 50% +1 steun deur ’n koalisie het nie, kan die party met die meeste steun (die DA in Tshwane en die ANC in Johannesburg) ’n minderheidsregering vorm. Hulle sal dan egter die steun van ander partye nodig hê in die verkiesing van ’n speaker en ’n burgemeester, asook in sake soos die begroting. Indien ’n sterk koalisie nie tot stand kom nie, kan dit tot uitgerekte en ondoeltreffende besluitneming lei.
Een alternatief is ’n veelparty- uitvoerende komitee wat op ’n ad hoc-basis oor sake beslis.
Grondwet dalk ingespan
Indien die partye in Johannesburg en Tshwane nie ’n regering gevorm kry nie, lê ’n ander moontlikheid en loer. Die minister van samewerkende regering, Des van Rooyen, het verlede week gesê as partye nie tot ’n vergelyk kan kom om “ons mense te help” nie, hy nie sal huiwer om art. 139 van die Grondwet te gebruik om in te gryp nie. Dié artikel maak voorsiening vir ingryping deur ’n provinsiale regering waar ’n “munisipaliteit ’n uitvoerende verpligting ingevolge die Grondwet of wetgewing nie kan nakom nie of dit nie nakom nie” deur daardie verantwoordelikheid oor te neem of die raad te ontbind en ’n administrateur aan te stel.
Hoewel sulke ingrypings in die verlede hoofsaaklik gebruik is in munisipaliteite wat finansiële probleme het, moet ’n mens, gegewe Van Rooyen se geskiedenis en vriendskappe, dit nie as vergesog beskou dat hy dié magte sou kon gebruik om die twee metro’s onder die gesag van die ANC-geleide provinsiale regering te bring nie. Dié faktor behoort ’n goeie aansporing vir sowel die DA as die EFF te wees.
Kortom, hoewel ’n mens verstaan dat partye wat koalisies wil sluit ’n groot verskeidenheid faktore in ag sal neem om koalisies te vorm, moet die gewetensvraag bly: Wat is die beste vir die metro se inwoners en kiesers? Hoe kan dienslewering verbeter en goeie en skoon regering verseker word? Dit moet vir die volgende paar weke en maande hoog op elke verantwoordelike party se agenda wees.
(Dr. Theuns Eloff is oudvisekanselier van die Noordwes Universiteit en uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting.)

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie