Sê maar net
Vakansie is nie vir sissies nie
Sanet Pearson - Die koerant het verlede week op sy webwerf gevra hoeveel mense gaan die vakansie genoeg geld hê om weg te gaan.
Die skokkende uitslag was dat 81,1% nee gesê het. Dit is definitief ’n spieëlbeeld van ons ekonomie tans. So 30 jaar terug was dit nie rêrig so ’n groot probleem nie. Omtrent almal kon geld spaar om met vakansie te gaan. Daai tyd was daar sowaar aan die einde van die maand ’n paar rand in jou beursie oor om te spaar.
Ek onthou nog toe ek op skool was hoe my gesin elke vakansie, langnaweek en partykeer naweke weggebreek het. Net om van die alledaagse roetine en omgewing te ontsnap.
My pa het ’n silwer Chevrolet gehad, kan nou nie die model onthou nie. Ek het baie keer die kar so jammer gekry. Hy het wel ’n sterk enjin gehad, maar die arme tjor moes elke vakansie en wegbreekkans ’n Gypsey 5 agter hom aansleep. Ek dink as die Chev die karavaan gesien het, het hy sy oë gerol en net gesug. Nes ’n kind wat nie rêrig lus is om iets te doen nie.
Dit het omtrent ’n week gevat om die karavaan te pak, Porta Potty en al (op my ma se aandrang). Sy het gesê sy sal gaan “kamp”, maar sy loop nie in die middel van die nag na die ablusieblokke toe nie. Ons het gewoonlik vir ons korter wegbreke na die Natalse Suidkus gegaan, Winkelspruit (my gunstelingplek), Scottburgh, Manaba Beach, Amanzimtoti, Margate en latere jare na Ballito en Umdloti. Dink nou net wat moes die Chev gedink het toe hy daai erge Natalse bulte gesien het. Ek dink hy het so paar vloekwoorde geuiter of miskien het hy begin bid, want daardie bulte as jy terug huis toe ry van Durban af Pietermaritzburg toe is nie vir sissies nie. Die arme Chev het menigte male, sommer op pad soontoe al, sy toys uit sy kot gegooi. Meeste kere was dit van oorverhitting. Dink die kar het net uiting aan sy gevoelens probeer gee, maar niemand het hom verstaan of na die arme siel geluister nie.
Vir ons langer vakansie het ons net Gordonsbaai toe gegaan. Weer eens dink ek die kar het bietjie vir bietjie ’n hartaanval oor die nuus gekry. Die Kaapse bulte is nie veel beter as die Natalse bulte nie.
Ons het Gordonsbaai altyd geniet. Dit en die Strand was nooit té besig in vakansietye nie.
Kaapstad was nou weer ’n ander storie. Ons wou altyd Tafelberg en Seepunt toe gaan en net rondry; ons wou alles verken.
Vir ons korter wegbreke het ons gewoonlik na ’n ATKV-oord gegaan, en Christiana s’n was ons gunsteling. Daar het ons ons eie ding gedoen. My ma en pa het ons in die oggend gesien en eers weer laatmiddag. Die vryheid was hemels gewees.
Kinders van vandag ken ongelukkig nie sulke vryheid nie. My pa is al in 2009 oorlede, maar ek wil vandag vir hom baie dankie sê vir al sy opofferings om ons op sulke lekker en gereelde vakansie te vat. Dit het ons gesin nader aan mekaar gebring, en baie herinneringe vir ons gelos.
Ek wens ons kan dit nog net één keer doen.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie