Su00f3 word SA armer aan aftreegeld, ander bates
Su00f3 word SA armer aan aftreegeld, ander bates

Só word SA armer aan aftreegeld, ander bates

’n Verslag spreek groot kommer uit oor die skielike en ongekende agteruitgang van die wêreld se finansiële bates en Suid-Afrikaners se kwynende vermoë om kop bo water te hou.
William Horne – Suid-Afrikaners dra as geheel al hoe minder tot aftreefondse by en skaal ook af aan versekering, maar dié agteruitgang is nie beperk tot die mees suidelike punt van Afrika nie.

Suid-Afrikaners se skuld is ook besig om die hoogte in te skiet soos die wêreld se finansiële bates as geheel ’n ongekende agteruitgang beleef.

Dit is luidens die Global Wealth Report van Allianz, een van die grootste batebestuurders ter wêreld.

Dié verslag spreek groot kommer uit oor die skielike en ongekende agteruitgang van die wêreld se finansiële bates en ook Suid-Afrikaners se kwynende vermoë om kop bo water te hou.

Allianz het bevind dat die netto waarde van Suid-Afrikaners se finansiële bates in 2018 met 6,4% getuimel het – die eerste jaar sedert die 2007-’08- finansiële krisis dat hul bates minder werd is as die vorige jaar.

Uit die 50 lande wat Allianz by sy verslag insluit, is Suid-Afrika nou 38ste op die lys, met netto finansiële bates per capita van net onder R105 000.

Maar Suid-Afrika is net ’n deel van ’n groter en baie kommerwekkende internasionale tendens.

In 2018 het huishoudings in sowel ontluikende markte as in die eerste wêreld se finansiële bates gelyktydig ingekrimp. Nie eens tydens die finansiële krisis is daar so agteruit geboer nie, sê Allianz in sy verslag.

Dis nie soseer dat die algehele waarde van die wêreld se bates met ’n enorme hoeveelheid ingekrimp het nie, maar eerder dat daar enigsins ’n inkrimping was. En dit nog ook gelyktydig in sowel gevorderde as nie-gevorderde ekonomieë.

Die totale finansiële bates van die wêreld se huishoudings beloop tans sowat R2 800 000 miljard. In 2018 het dié enorme syfer met R2 797 miljard, oftewel 0,1%, gedaal.

Vir die eerste keer tot nog toe het ontluikende markte se finansiële bates nie gegroei nie, maar ’n 0,4%-inkrimping beleef. Volgens Allianz is dit kommerwekkend omdat dit moontlik dui op die einde van ’n lang tendens waar die ontwikkelende wêreld nog voortdurend aan’t opvang met die ontwikkelde wêreld was.

Middelklas

Die verslag wys ook daarop dat 2018 die eerste keer in meer as ’n dekade was wat die wêreld se middelklas nie gegroei het nie.

Aan die einde van 2018 het ongeveer 1,04 miljard mense (waaronder byna 6 miljoen Suid-Afrikaners) tot die wêreld se middelklas behoort.

Spaarders sukkel

Spaarders was wêreldwyd in ’n penarie, sê Allianz: aan die een kant is die toenemende handelstwis tussen die VSA en China, die eindelose “Brexit-sage” en toenemende geopolitieke spanning.

Aan die ander kant is die vernouing van monetêre toestande en die (aangekondigde) normalisering van monetêre beleid om minder stimulus aan te bied. Aandelemarkte het dienooreenkomstig gereageer en in 2018 het aandeelpryse wêreldwyd met ongeveer 12% gedaal.

Michael Heise, hoofekonoom van Allianz, skryf die toenemende onsekerheid toe aan veral die herverskyning van rampspoedige proteksionisme in verskeie lande.

“Die wêreld loop deur onder toenemende onsekerheid,” sê hy.

“Die aftakeling van die wêreldwye ekonomiese bestel is giftig vir die opbou van rykdom.

“Die syfers vir die groei van bates maak dit ook duidelik: Handel is nie ’n spel met net een wenner en dan verloorders nie. Óf almal is aan die wenkant – soos in die verlede – óf almal is aan die verloorkant – soos verlede jaar begin gebeur het. Aggressiewe proteksionisme ken geen wenners nie.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!