SA man kan uit Dubai gesit word
SA man kan uit Dubai gesit word

SA man kan uit Dubai gesit word

Justin van Pletzen, die Suid-Afrikaner wat bekendheid verwerf het toe hy Ajay Gupta in Dubai gekonfronteer het, is 'n swaar vonnis opgelê nadat 'n video daarvan op sosiale media versprei is.

'n Bron wat eerstehandse kennis het van die saak, het Woensdag bevestig Van Pletzen en nog twee beskuldigdes is op 16 Julie skuldig bevind dat hulle Gupta se privaatheid geskend het.

Van Pletzen en sy medebeskuldigdes, wie se name nie bekend gemaak is nie, is aangekla nadat hy Gupta op video aangevat het. Die twee medebeskuldigdes het glo die video gemaak van die gesprek tussen Van Pletzen en Gupta.

In die video skud Van Pletzen Ajay se hand en vra hom wanneer hy na Suid-Afrika gaan terugkeer “omdat die hele land na hom soek”.

Kort daarna het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking bevestig Van Pletzen is in hegtenis geneem en word in Dubai aangehou.

Volgens die bron is die saak op 2 Julie in 'n hof in Dubai aangehoor en hulle is skuldig bevind. Daarna is hulle op 16 Julie 'n boete van 10 000 dirhams (sowat R130 000) opgelê en deportasie terug na hul lande van herkoms.

In “Dubai-terme” het die drie glo lig daarvan afgekom.

Gulf News het kort ná hul inhegtenisneming berig dat dit in Dubai onwettig is om foto's of video's van iemand te maak sonder dié persoon se toestemming.

Dit kan lei tot 'n straf van 150 000 dirhams (sowat R530 000) of 'n minimum van 'n jaar tronkstraf.



APPELLEER

Van Pletzen en sy twee medebeskuldigdes moes onmiddellik ná hul vonnis die boete betaal om toestemming te kry dat die vonnis op appèl geneem kan word.

“Kyk die boete was al erg – al drie werk hard vir hul geld – maar om gedeporteer te word is erger. Dit gaan beteken dat geeneen van hulle weer in Dubai of die Midde-Ooste mag werk nie,” aldus die bron.

Boonop het geeneen van hulle nog hul paspoorte teruggekry nie. Die polisie het dit afgevat toe hulle in hegtenis geneem is.

Die drie mag Dubai nie verlaat tot hul appèl ­aangehoor is nie. Hulle word wel toegelaat om te werk.

Dit is veral vir Van Pletzen swaar. Hy het agt maande laas sy familie in lewende lywe gesien en het Woensdag sy dogtertjie se sesde verjaardag gemis.

“Gelukkige verjaarsdag my klein engel . . . Pappa hoop om jou gou weer te sien . . . pappa het jou lief tot by die maan en terug,” het Van Pletzen geskryf op sy Facebook-blad.

Die drie se appèl sal na verwagting in September aangehoor word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!