SA se gunsteling-bank is..
SA se gunsteling-bank is..

SA se gunsteling-bank is..

Meer as 15 000 kliënte van banke in Suid-Afrika het aan die peiling deelgeneem.
Elvira Wood - Capitec is vir die sesde opeenvolgende jaar die bank waarmee Suid-Afrikaanse kliënte die meeste tevrede is.

Capitec het sy topplek onder die banke behou met ’n telling van 84,9 uit 100, volgens die Suid-Afrikaanse Indeks van Verbruikerstevredenheid (SAcsi).

Dié resultate van die nuutste indeks, wat vir 2018 geld, is Woensdag bekend gemaak.



Meer as 15 000 kliënte van Capitec, FNB, Nedbank, Absa, Standard Bank en African Bank het aan die peiling deelgeneem.

Capitec se punt is laer as sy 85,3 van 2017, maar steeds hoër as die 83,1 van 2016.

Die jongste gemiddelde telling van die banke is 78,8 uit 100.

Capitec is ook die bank wie se kliënte (59,8%) die meeste gewillig is om hom aan vriende of familielede aan te beveel. Sy kliënte glo ook hy bied die beste waarde vir geld, met ’n punt van 88,2 uit 100.

FNB volg kort op Capitec se hakke met ’n algehele telling van 81,5, en waarvan 47,9% van sy kliënte hom aan ander sou aanbeveel.

Die bank wat die swakste gevaar het, is Absa met sy algehele telling op 76,3 en net 21,9% van sy kliënte wat hom sal aanbeveel. Wat waarde vir geld betref, sukkel Absa ook met die laagste punt van net 71,9 uit 100.

Die volledige volgorde is:

Capitec (84,9)

FNB (81,5)

Nedbank (79,3)

African Bank (78,1)

Standard Bank (77)

Absa (76,3)

Die drie nuwe banke, TymeBank, wat reeds bedrywig is, en Bank Zero en Discovery Bank, wat nog nie bedrywig is nie, is nie in die peiling ingesluit nie.

Consulta, wat die peiling gedoen het, waarsku dat dié drie banke die uitslag van die peiling in die toekoms drasties kan laat verander.

“2019 gaan ’n belangrike jaar vir die banksektor wees met die tradisionele banke wat beduidende nuwe mededinging gaan kry van die drie nuwe banke,” sê hy Woensdag in ’n verklaring.

Consulta sê wat die toekoms veral interessant gaan maak, is dat hoewel tegnologie ’n al hoe groter rol speel wanneer kliënte ’n bank kies, kliëntediens egter steeds sentraal staan in dié besluit.

Klagtes

Selfs wat klagtes betref, vaar Capitec beter as al die ander groot banke.

Luidens die resultate van die peiling het net sowat 10% van dié bank se kliënte in 2018 oor sy diens gekla.

Consulta sê wat die ander betref, lyk dinge glad nie goed nie.

“Vir alle ander banke is die aantal klagtes wat hulle ontvang gemiddeld 150% hoër as die internasionale maatstaf van 10%. Dit is ook kommerwekkend dat wanneer jy kyk waaroor kliënte kla, dit hoofsaaklik is oor basiese kwessies soos rekeningnavrae, debietorders en betalings, kaartkwessies en so meer, eerder as oor meer ingewikkelde kwessies,” sê Consulta.

Hy meen banke gaan dringend na die probleem moet kyk, gegewe dat mense dalk een van die nuwe banke kan oorweeg omdat hul bestaande bank nie hul probleem kan oplos nie.

Waarskuwing vir FNB

Hy waarsku dat dit veral FNB is wat gaan moet lig loop aangesien 4% meer kliënte in 2018 klagtes oor hom gehad het as in 2017.

“Hoewel FNB dus homself baie sterk as ’n digitale bank geposisioneer het, lyk dit nie of sy stelsels en prosesse altyd sonder probleme is nie,” sê Consulta.

Prof. Adré Schreuder, stigter van SAcsi en uitvoerende hoof van Consulta, sê in die verklaring wat in 2019 die groot verskil gaan maak oor watter bank die gewildste is, is watter een regtig ’n aantreklike kliënte-ervaring gaan bied.

Gerrie Fourie, uitvoerende hoof van Capitec, sê in ’n verklaring die bank is baie dankbaar dat sy kliënte hom die erkenning gee om vir die sesde opeenvolgende jaar dié eer te ontvang.

“Ons streef daarna om ons kliënte beter te help deur hulle tyd en geld te bespaar sodat hulle beter kan leef. Hierdie erkenning bewys dat ons in die regte rigting beweeg. Ons besef egter daar is altyd die geleentheid om verder te verbeter.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!