SA-staatskuld skiet die hoogte in
Suid-Afrika se finansies is in 'n verknorsing met die skuldlas wat swaar druk op die tesourie plaas.
Gevaarligte flikker vir die kredietgradeerders, want die Suid-Afrikaanse tesourie verwag 'n inkomstetekort van R50,8 miljard vir die 2017-'18-boekjaar teenoor vorige bespiegelinge dat dit soveel as R40 miljard kon wees.
Die gevolg is dat 'n begrotingstekort van 4,3% van die BBP verwag word, teenoor die 3,1% van die BBP wat nog in Februarie voorspel is.
Dit kom te midde van die tesourie se afskaal van sy ekonomiese groeiverwagting vir vanjaar tot 0,7% teenoor die optimistiese 1,3% waaroor hy nog in Februarie gedroom het.
'n Nog skokkender syfer is dat die tesourie verwag die bruto nasionale skuld sal teen 2022 sowat 60% van die BBP bedra, teenoor die huidige 54,2%.
Dit beteken 'n al groter deel van belasting gaan gebruik moet word om rente op skuld te delg, en die tesourie sê rentebetalings sal oor die volgende drie jaar steeds die snel groeiendste bestedingsitem in die begroting bly.
Skulddienskoste gaan R1 miljard meer wees as verwag in die lopende boekjaar, en sal in 2018-'19 R2,4 miljard meer wees en in 2019-'20 R6 miljard meer wees.
Om sy boeke te laat klop (die bruto leningsvereiste), sal die regering dus in die lopende boekjaar in totaal R248,3 miljard moet leen, nadat tydens die Februarie-begroting nog verwag is dat R220,9 miljard geleen sal moet word.
Teen 2019-'20 sal dié bedrag tot R352,5 miljard styg.
Die impak van kredietgraderingsagentskappe se afgradering van Suid-Afrika se buitelandse skuld is reeds te sien in die tesourie se projeksies. Hy sê skuldherfinansierings sal van R28,7 miljard tot R109,4 miljard in 2019-'20 styg, hoofsaaklik weens R50,5 miljard se buitelandse lenings wat herfinansier moet word teen hoër vooruitgeskatte langtermynrentekoerse.
Standard & Poor's én Fitch Ratings het reeds Suid-Afrika se buitelandse skuld tot rommelstatus afgegradeer, wat beteken Suid-Afrika kry nie meer die gunstige rentekoerse wat lande op beleggingsgraad kry wanneer hy geld in die buiteland leen nie.
Die agentskappe besluit weer in November oor hul kredietgraderings vir Suid-Afrika.
Die tesourie verwag byna 15% van die hoof-begrotingsinkomste sal teen 2020-'21 aan rente op skuld bestee moet word. Om die bruto skuld oor die volgende dekade tot onder 60% van die BBP te laat stabiliseer, sal belastingverhogings of bestedingsnywerk van 0,8% van die BBP verg. In die volgende boekjaar kan 0,8% van die BBP 'n bedrag van R40 miljard behels.
Om dié groeiende skuldbom te bestuur oorweeg 'n span ministers wat regstreeks aan die president verslag doen 'n reeks voorstelle om die staatsfinansies weer op 'n volhoubare koers te kry, en die tesourie sê aankondigings hieroor kan met die 2018-begroting verwag word. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie