• Tuisblad
  • Sake
  • SAL waarsku staking kan tot ‘volkome stilstand’ lei
SAL waarsku staking kan tot u2018volkome stilstandu2019 lei
SAL waarsku staking kan tot u2018volkome stilstandu2019 lei

SAL waarsku staking kan tot ‘volkome stilstand’ lei

Bonolo Selebano – Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) het Dinsdag gewaarsku dat ’n volskaalse staking by dié lugdiens daartoe kan lei dat al sy operasionele bedrywighede tot stilstand knars.

Dit kom nadat georganiseerde arbeid gedreig het met ’n “totale sluiting” oor voorgenome afleggings van personeel.

Deon Fredericks, waarnemende finansiële hoof van die SAL, het Dinsdag op ’n mediakonferensie by dié staatsbeheerde entiteit se hoofkantoor in Kempton Park gesê die vakbond se dreigement om hul lede te laat stem oor ’n staking oor dreigende posteverminderings, is sleg vir besigheid en kan alle bedrywighede tot stilstand dwing.

“Ons het ’n gebeurlikheidsplan, maar as almal staak, sal dit moeilik wees om die lugdiens te bedryf. As dit gebeur, sal dit die maatskappy aan noemenswaardige risiko blootstel. Dit kan dalk selfs lei tot die sluiting van die lugdiens, want verskaffers sal wonder of hulle moet aanhou om dienste te bied. Dit is waarom ons die vakbonde gevra het om saam te praat oor hoe ons vorentoe kan beweeg in dié moeilike tye,” het Fredericks gesê.

Die lugdiens het aangekondig dat hy ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge art. 189-kennisgewings aan sy werknemers gegee het. Dit stel ’n werkgewer in staat om van sy personeel vir bedryfsredes af te lê.

Fredericks het gesê dit word aan die hand van die lugdiens se herstruktureringsproses gedoen en die staatsbeheerde maatskappy kan R700 miljoen daardeur spaar. Hy het bygevoeg die herstruktureringsproses kan 944 werknemers raak.

Die vakbonde wat werknemers van SAL verteenwoordig, is Numsa, die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca), die National Transport Movement (NTM) en die Suid-Afrikaanse Vlieëniersvereniging (Sapa).

Numsa en Sacca het Dinsdag in ’n gesamentlike verklaring gesê hul lede is Maandag deur ’n mediaverklaring van die SAL in kennis gestel van die voorgenome afleggings.

Dit is waarom die vakbonde dreig om die SAL deur ’n staking tot stilstand te laat knars.

“Ons berei lede solank voor vir die moeder van alle stakings by die SAL en al sy bedrywighede landwyd. Ons het reeds ’n stakingsertifikaat bekom en het reeds die stemproses afgehandel.”

Die SAL het ’n reddingsboei van R9,2 miljard gekry in Tito Mboweni, minister van finansies, se toespraak verlede maand oor sy middeltermynbegrotingsraamwerk, sodat hy van sy skuld kan afbetaal wat hy nie kon oorrol nie omdat banke nie meer vir die SAL wou geld leen nie.

Oor heersende salarisonderhandelinge by die SAL het Fredericks gesê vakbonde moet bedag wees daarop dat die lugdiens in ’n benarde finansiële posisie is.

“Op die vergaderings het die SAL-leierskap voorleggings aan vakbonde gedoen oor die likiditeitstatus van die SAL, sy finansiële prestasie en vordering wat met die omkeerstrategie gemaak word,” sê Fredericks.

“Ons het duidelik aangedui hoe moeilik die SAL se geldsake is . . . dit is ons hoop dat die vakbonde die volle omvang van dié finansiële situasie sal begryp.”

Martin Kemp, hoof van menslike hulpbronne by die SAL, het benadruk dat vakbonde vooraf kennis gehad het van die lugdiens se voorneme om personeel af te lê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!