Sam Khubis herdenk
Die voorsitter van die feeskomitee sê die onus rus nou op die jeug om met die herdenking van dié geskiedkundige dag voort te gaan.
Rehoboth se Baster-gemeenskap herdenk sedert verlede week die Slag van Sam Khubis wat op 8 Mei 1915 plaasgevind het.
Vanjaar se herdenking het op 1 Mei met 'n kerkdiens op die plaas Uitdraai begin waar die Baster-belofte hernu is. Daarna is die verrigtinge na die plaas Garis verskuif waar die voormalige Baster-kaptein, Cornelius van Wyk, se familie deur die Duitse koloniale troepe uitgewis is.
Maandag is 'n kerkdiens en fakkelseremonie op Rehoboth gehou waarna sowat 50 mans te perd, vergesel deur die gemeenskap geklee in tradisionele Baster-drag, na Sam Khubis, sowat 50 km suidwes van Rehoboth, vertrek het. Gister is die herdenking met 'n dramatisering van hoe die Duitsers die Basters aangeval het, voortgesit. Daarna het 'n kerkdiens, 'n kranslegging, 'n minuut van stilte en geweersalvo ter ere van die gevalle Baster-helde plaasgevind.
Die voorsitter van die Sam Khubis-feeskomitee, mnr. Albert Alberts, sê die herdenking is belangrik, want die jeug moet weet wat met hul voorvaders gebeur het.
'JONG MENSE IS FAKKELDRAERS'
“Die jong mense is die toekomstige fakkeldraers van die Baster-gemeenskap en hulle moet weet watter gruweldade teen ons mense gepleeg is. Die onus rus nou op die jeug om voort te gaan met die herdenking en om die kennis aan toekomstige geslagte oor te dra,” het Alberts gesê.
Die geskiedkundige Slag van Sam Khubis het op 8 Mei 1915 plaasgevind toe die Duitse koloniale magte die Basters aangeval het en die Basters na hul laaste vesting, Sam Khubis, gevlug het.
“Die vrees vir totale uitwissing deur 'n swaar gewapende Duitse weermag het 'n sin van gemeenskaplikheid onder die Basters gevestig,” het Alberts gesê.
“Die Duitsers het ons mense vroeg die oggend by Sam Khubis aangeval waar die gemeenskap beskerming gevind het. Die geveg het tot die aand aangehou. Die Basters het gevrees dat die grofgeskut van die Duitse leër ons heeltemal sou verslaan en uitwis, maar die Duitsers het die volgende dag onttrek,” het Alberts vertel.
Hy vertel verder op 13 April 1915 het die Duitse owerhede die Baster-raad versoek dat die gewapende Baster-troepe na Otjiwarongo moet gaan om oorlogsgevangenes te beskerm.
“As daar nie aan hierdie eise voldoen is nie, moes alle wapens in besit van die Basters aan die Duitse weermag oorhandig word. Die Duitsers het die Baster-raad 'n spertyd van drie dae gegee,” het Alberts vertel.
Die volgende dag, volgens Alberts, het die Duitsers onverwags die Baster-soldate by Sandputs ontwapen.
“Verskeie Baster-soldate het probeer ontsnap. Een is doodgeskiet en 'n ander een wat ontsnap het, het die Baster-raad van die gebeure vertel. In die volgende dae het verskeie skermutselinge plaasgevind waartydens Baster- en Duitse soldate gesterf het.” - Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie