Samaria se kop geëis

Ná die teleurstelling is daar vele rusbank-eksperts wat Bobby Samaria, hoofafrigter van die Brave Warriors, se kop eis.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die gedagte dat Namibië dalk nie by die 2021 Afrika-Nasiesbekertoernooi in Kameroen sal aantree nie, het sterker posgevat nadat die Brave Warriors Dinsdag­aand in die Sam Nujoma-stadion opnuut die knie met 2-1 teen die besoekende Arende van Mali gebuig het.

Dit is die tweede keer in vier dae dat die Wes-Afrikane hulle 'n sokkerles geleer het. Dat Mali dit boonop reggekry het met die laat ontwrigting dat vyf spelers positief vir die coronavirus getoets het, spreek boekdele.

Mali, wat sake oortuigend gedikteer het, het hiermee sy span se vliegtuigkaartjies vir die kontinentale skou­spel in Kameroen bespreek.

Daar is nou geen manier meer hoe Namibië (3 punte) vir Mali (10) kan inhaal nie en of hulle ooit Guinee (8) uit die tweede posisie kan boender, is te betwyfel.

Hoewel Samaria vooraf gesê het sy span sal uit die staanspoor moet aanval en doele behaal, het net mooi die teenoorgestelde gebeur. Die nagmerrie het reeds vroeg gestalte gekry toe Mali se Sekou Koita (12de minuut, ná 'n blaps deur Ananias Gebhardt) en Moussa Doumbia (37ste minuut) vir doelwagter Virgil Vries geklop het.

Hoewel Elmo Kambindu Namibië se hoop twee minute later met sy eie treffer laat opvlam het, was dit die laaste sien van die blikkantien. Die rustydtelling van 2-1 in Mali se guns het onveranderd gebly tot die eindfluitjie geblaas het.

Mali se tweede doel het van die stewel van Koita gekom toe hy ná 'n aangee van Alliou Dieng 'n briljante kolskoot van die linkerkantste kantlyn plant. Doumbia se vaart was genoeg om Larry Horaeb te klop en ook vir Vries te flous.

Kambindu se vernuf was deurslaggewend toe hy ná 'n vryskop hoog spring en die bal met 'n perfekte kopstoot verby die verbaasde Ibrahim Mounkoro, die Mali-doelwagter, vir 'n broodnodige doel laat trek.

In die tweede helfte was Mali steeds stewig in beheer en moes sy oorwinning in die 58ste minuut verseël het. Maar die vasberade Vries duik regs en keer 'n strafskop van El Bilal Toure om die tuisspan van verdere vernedering te spaar.

In die laaste minute het die Namibiërs hul bes probeer, maar die verdediging van Mali het gehou.

Samaria, wat Ricardo Mannetti as tussentydse hoofbreier vervang het, sal heel moontlik ná dié loesing gefrustreerd en raadop wees. Sy posisie sal waarskynlik druk bespreek word, hoewel hy sonder 'n aktiewe Premierliga die afgelope twaalf maande met 'n gros spelers sit wat nie wed­strydfiks is nie.

Nasionale spelers op dié vlak behoort darem 'n bal behoorlik te kan beheer wanneer dit tel en aangeë sonder roekelose skoppe te kan bemeester. Die manne se selfvertroue laat ook veel te wense oor en iets sal beslis daaraan gedoen moet word.

Die Warriors se futiele veldtog in groep A het so verloop: 1 Namibië 2-1 Tsjad (13/11/2019), 2 Guinee 2-1 Namibië (17/112019), 3 Mali 1-0 Namibië (13/11/2020), 4 Mali 2-1 Namibië (17/11/2020).

Optimisties beskou, sal Namibië beide sy oorblywende wedstryde in groep A moet wen en Guinee moet syne verloor, sodat die Warriors ­laasgenoemde met 'n enkele punt kan verbysteek om in die tweede plek vir Kameroen te kwalifiseer. Net die toptwee lande in elke groep kwalifiseer.

Die span wat Dinsdagaand in Katutura op die veld gestap het: Virgil Vries (doelwagter), Ananias Geb­hardt, Vitapi Ngaruka, Teberius Lombard, Larry Horaeb, Absalom Iimbondi, Petrus Shitembi, Denzil Hoaseb, Deon Hotto, Elmo Kam­bindu, Peter Shalulile.

Lombard is op die nippertjie nader geroep toe Ryan Nyambe tydens die opwarming beseer is.

Vanaf die bank is Hotto, Shitembi en Iimbondi onderskeidelik deur Benson Shilongo, Marcel Papama en Salomon Omseb vervang. Riaan Hanamub, in die tweede helfte opgestuur in Geb­hardt se plek, het in die 85ste minuut so byna 'n treffer gehad, maar sy langerige skop het die regoppaal getref en teruggespat.

Die finale ronde kwalifiserende wedstryde begin op 22 Maart 2021 wanneer Namibië 'n wegwedstryd teen Tsjad aanpak, met die afsluiting teen Guinee in Windhoek op 30 Maart 'n harde neut gaan wees om te kraak.

• Ander kwalifiserende uitslae van Dinsdag: Soedan 1-0 Ghana, Rwanda 0-0 Kaap Verde, Ethiopië 3-0 Niger, Madagaskar 1-1 Ivoorkus, Lesotho 0-0 Benin, Angola 0-1 Demokratiese Republiek die Kongo, Sentraal-Afrikaanse Republiek 0-2 Marokko, Togo 1-3 Egipte, Sierra Leone 0-0 Nigerië, Namibië 1-2 Mali, Tanzanië 1-1 Tunisië.

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!