S&P 500 haal 1ste rekord in meer as ’n jaar
’n Jaar wat Amerikaanse beleggers liefs sou wou vergeet, is dalk verby. Maar nie almal is so seker daarvan nie, en talle batebestuurders voorspel steeds ’n beermark.
Nadat die Standard & Poor’s 500-indeks twee keer ’n korreksie beleef het (’n daling van meer as 10%, maar minder as 20%) en boonop die afgelope jaar besonder wisselvallig was, het dit Maandag ’n algehele rekord van 2 137,16 punte behaal.
Die vorige rekord, van 2 130,82 punte is op 21 Mei 2015 gehaal.
Die indeks volg die 500 grootste maatskappye volgens markwaarde wat op sowel die New Yorkse Aandelebeurs as die Nasdaq genoteer is.
Die styging word toegeskryf aan tekens dat die Amerikaanse ekonomie besig is om spoed op te tel.
Dit volg op die langste tydperk sonder enige rekords sedert 1985, uitgesluit beermarkte (wat ’n daling van 20% of meer is).
Die rekord is die 109de die afgelope drie jaar en kom nadat die indeks vir 285 dae onder sy vorige hoogtepunt verhandel het.
Sedert die wêreldwye finansiële krisis het individuele beleggers geld aan effektetrustfondse onttrek. Beleggings in sogenaamde defensiewe aandele – maatskappye wat goed vaar ongeag hoe die ekonomie vaar – het die hoogte ingeskiet.
Tussen Januarie en Junie het individuele Amerikaanse beleggers meer as US$80 miljard uit aandele onttrek – die meeste sedert minstens 1984.
Daarby het spekulante meer kortverkope gedoen – dus aandele verkoop wat hulle nog nie besit het nie in die hoop dat die aandeelprys gaan daal.
Sedert 1946 was daar 12 keer waarin die S&P 500 langer as dit geneem het om ’n nuwe hoogtepunt te behaal. Die meeste van die tyd, wanneer aandeelpryse vir so lank sonder ’n rekord gaan, beteken dit ’n beermark.
Die aandele in die indeks wat sedert Mei 2015 die beste gevaar het, was maatskappye met goeie dividendbetalings en stabiele inkomste, soos nuts- en telekommunikasiemaatskappye. Hulle het met minstens 14% gestyg.
Maatskappye wie se inkomste meer sensitief vir ekonomiese swaaie is, soos hulpbronmaatskappye en banke, is die grootste verloorders, met ’n daling van meer as 7%.
Individuele beleggers bly lugtig vir aandele, maar portefeuljebestuurders soos Kelly Bogdanov van RBC Wealth Management in San Francisco, beskou dié skeptisisme as ’n goeie teken. Dit voorkom prysborrels – wat natuurlik kan bars – omdat mense nie wild en wakker belê nie, maar baie oordeelkundig die aandelebeurs betree.
Omsigtige beleggers word ook afgeskrik deur hoe duur aandeelpryse is in verhouding tot maatskappye se inkomste en dalende wins die afgelope jaar of wat.
Die S&P 500 verhandel tans teen ’n prys-verdienste-veelvoud van 19,8 keer, 20% meer as die gemiddelde van die laaste dekade.
- Netwerk24/Bloomberg

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie