See toe ná swoeg en sweet

Tanja Bause
Tanja Bause – Vyftien kinders van die Tov-sentrum vir wees- en weerlose kinders op Tsumeb gaan die see in Augustus vir die eerste keer sien.

Eerw. Edward Amadhila van dié sentrum is van plan om die kinders Walvisbaai toe te neem.

“Ek het ná ’n gesprek met die kinders besef nie een van die 65 wat ons by Tov huisves, was al by die see nie. Ek het begin planne maak om hulle nie net die see te gaan wys nie, maar ook besighede soos ’n visfabriek, die hawe en die soutaanleg. Besienswaardighede soos die akwarium op Swakopmund en Duin 7 sal ook besoek word,” sê hy.

Hoewel die reis vol pret sal wees, sal dit oorwegend opvoedkundig wees.

“Ek wil hê die kinders moet sien wat hul kanse in die lewe is as hulle hard werk. Met harde werk kan hulle van hul omstandighede ontsnap en hul lewens verbeter,” sê hy.

Volgens Amadhila was dit nie maklik om te bepaal watter kinders vir die toer geselekteer word nie.

“Hulle moes ’n opstel skryf oor hoekom hulle gekies moet word om see toe te gaan, en dan moes hulle dit mondelings motiveer. Een meisie het gesê sy is in ’n sinkhuis op Otavi gebore en sy en haar gesin het Tsumeb toe getrek, waar sy steeds in ’n sinkhuis bly. Sy het gesê sy het nog nooit in ’n steenhuis geslaap nie en wil baie graag see toe gaan sodat sy in ’n steenhuis kan slaap. Ons het sulke kinders gekies om te gaan,” sê hy.

Die 15 kinders wat gekies is, het Saterdag 60 swartsakke vol rommel in Tsumeb se Soweto-nedersetting gaan optel.

“Die kinders moet leer jy kan nie bakhand staan en verwag mense moet die toer, verblyf en kos sommer net so vir jou betaal nie. Hulle moet werk en sodoende geld insamel sodat hulle kan gaan. Werk word beloon.”

Tov benodig N$19 000 vir die groep se verblyf en N$15 000 vir vervoer en ander onkostes.

Deur middel van hul skoonmaakveldtog het hulle al N$6 500 ingesamel.

“Ons sal elke Saterdag skoonmaak tot ons twee doele bereik het: Een is om geld vir die toer in te samel en die ander is om weer eens die skoonste dorp in die land te wees. Ons was in ‘n stadium die skoonste dorp, maar nou is dit erg vuil hier. Saam kan ons ’n verskil maak en skoonmaak.”

Mense wat Tov en die toer wil ondersteun, kan Amadhila by 081 274 8618 kontak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!