• Tuisblad
  • Sake
  • Seeroetes korter, maar risiko's vir skepe al meer

Seeroetes korter, maar risiko's vir skepe al meer

’n Versekeraar waarsku klimaatsverandering veroorsaak ’n toename in ysberge wat suidwaarts dryf en ’n botsingsrisiko vir skepe inhou.
Francois Williams – Versekeraars vrees snelveranderende seetoestande in die Arktiese See en die Noord-Atlantiese Oseaan verhoog die versekeringsrisiko van skepe en vrag.

Weens klimaatsverandering wat die pakys in van die Arktiese gebiede laat smelt, het nuwe skeepsroetes die afgelope paar jaar moontlik geword, wat die reistyd vir ’n vragskip tussen byvoorbeeld Suid-Korea en Frankryk met byna ’n week verkort. Pleks van deur die Middellandse See en die Suez-kanaal, kan skepe wat tussen Suidoos-Asië en Europa vaar, nou ’n korter roete via die noorde van Rusland volg, wat sowat 3 000 seemyl korter is. (Sien grafika)

Die versekeraar AGCS waarsku egter klimaatsverandering veroorsaak ’n toename in ysberge wat suidwaarts dryf en ’n botsingsrisiko vir skepe inhou in gebiede wat nie voorheen dié risiko gehad het nie.

Vroeg vanjaar is ’n mylpaal vir Arktiese seevaart behaal toe ’n spesiaal ontwerpte vloeibare-aardgastenkskip die eerste handelsvaartuig was wat in die winter die noordelike seeroete sonder die hulp van ’n ysbreker aangepak het. Die Eduard Toll het van Suid-Korea na Montoir in Frankryk gevaar via Noord-Rusland.

Dit het gevolg op die vaart in Augustus 2017 toe ’n ander spesiaal ontwerpte tenkskip die eerste handelskip was wat die Arktiese See in die somer sonder ’n ysbreker oorgesteek het. Dit het die skip 19 dae geneem om van Noorweë na Suid-Korea te vaar, wat byna ’n week korter is as via die Middellandse See.

’n Houerskip van die Deense skeepsredery Maersk is tans ter see in ’n baanbreker-toetsvaart vir ’n houerskip – hy vaar van Suid-Korea af na Bremerhaven in Duitsland via die noordelike seeroete, het Sputnik News Maandag berig.

Die vaart sal na verwagting 23 dae duur, teenoor 34 dae via die Suez-kanaal en 46 dae om die Kaap die Goeie Hoop. Die skip word vergesel van vier Russiese kernaangedrewe ysbrekers.

Rosatom, die Russiese staatsbeheerde kernmaatskappy wat die ysbrekers voorsien, bemark die roete aan skeepsrederye as ’n seerower-vrye roete met geen wagtye.

Navorsing wys die mediaan-sentrum van skeepsbedrywighede in die Arktiese gebied het oor ’n tydperk van sewe jaar 300 km noord en oos beweeg. Vragvolumes op die noordelike seeroete het in 2017 met byna 40% tot 9,7 miljoen ton gestyg, volgens inligting van die Russiese federale agentskap vir maritieme en riviervervoer. Dit kan teen 2022 tot 40 miljoen ton styg en teen 2030 tot tussen 70 miljoen ton en 80 miljoen ton.

Die nuwe skeepsroetes hou voor- en nadele in, waarsku Volker Dierks, hoof van mariene romponderskrywing by AGCS in Sentraal- en Oos-Europa.

China het in Februarie vanjaar sy planne vir ’n “Arktiese syroete” bekend gemaak om nuwe seeroetes te ontwikkel wat deur aardverhitting moontlik gemaak word.

Die internasionale kode vir die veiligheid van skepe in die Poolsee het in 2017 van krag geword. Dit stippel verpligte vereistes uit wat onder meer betref ysnavigasie, skeepsontwerp en bemanning.

Namate die ys in die Arktiese gebiede smelt, is daar al hoe meer ysberge wat in die pad van ander seeroetes kan indryf en ’n risiko vir skepe kan inhou, waarsku Arnaud Gibrais, ’n senior mariene-risikokonsultant van AGCS in Parys. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!