Sekuriteit voor stok gekry
Sekuriteit voor stok gekry

Sekuriteit voor stok gekry

Verskeie belangegroepe uit die sekuriteitsbedryf het gister ernstige struikelblokke uitgewys.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Onvoldoende en laat salarisbetalings, maatskappye wat nie werkskontrakte of betaalstrokies gebruik nie en sekuriteits­wagte wat slaap as hulle moet werk, of steel, is maar enkele van die ­probleme wat die plaaslike sekuri­teitsbedryf in die gesig staar.

Boonop moet verskeie sekuriteitsmaatskappye lank wag dat die ­regering sy rekeninge by hulle betaal, terwyl probleme met die nuwe ­verkrygingswet en tenderproses na bewering daartoe lei dat dit moeilik is om 'n tender te bekom en dit glo nie noodwendig aan die regte party toegeken word nie.

Terselfdertyd is daar ná 26 jaar ook nog geen regulasies vir die wet op ­sekuriteitsondernemings en sekuriteitsbeamptes nie.

Dít was enkele van die kwessies wat gister tydens 'n vergadering by die arbeidskommissaris se kantoor in Windhoek gelug is, waar vakbonde, regeringsamptenare, ­polisiebeamptes en private sekuriteitsdiensver­skaffers vergader het om die bedryf se probleme te takel.

Die vergadering is deur die uitvoerende direkteur van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, gelei.



MINIMUM LOON VERONTAGSAAM

Die president van die Sekuriteitsvereniging van Namibië (SAN), mnr. Hans Miljo, het gesê die swak betaling van sekuriteitswagte is hul grootste bron van kommer en die meerderheid sekuriteitsmaatskappye gee nie aan die minimum loon gehoor nie.

“Die mense word nie betaal wat hulle toekom nie. Dit moet dadelik stop,” het Miljo gesê.

Hy het ook gesê maatskappye ervaar ernstige probleme met wangedrag onder hul ­arbeidsmag, hoewel hy nie verkeerde optrede deur maat­skappye goedpraat nie.

“Wagte moet hul kant bring en nie steel as hulle eiendom moet oppas nie.”

Hy het voorgestel beter opleiding van wagte kan hiermee help, terwyl voorstelle uit die gehoor ingesluit het dat wagte se verwysings beter nagegaan moet word voor hulle aangestel word.

Shinguadja het gesê met die huidige minimum loon vir sekuriteitswagte sal niemand ooit van armoede kan ontsnap nie.



VAKBONDE

Shinguadja het gesê dis nodig dat die sektor homself organiseer en meer professioneel te werk gaan.

Hy sê werkgewers weier ­vakbonde glo toegang tot hul geboue, en ­werknemers wat daaraan behoort, word glo uitgewerk terwyl die wet voorsiening vir vakbonde in die werksplek maak.

“Moenie hulle hul reg tot organisering weier nie,” het hy gesê.

“Watter sekuriteitswag is nog trots daarop om te erken dat hy 'n wag is? Wagte is kwaad, moeg en ontnugter. Hulle voel nie dat hulle regverdig in 'n onafhanklike land hanteer word nie. Ons moet erken ons het 'n probleem, dit is elke dag in die koerante,” het Shinguadja gesê.

'n Verteenwoordiger van die Namibië Sekuriteitswagvakbond (NASGAWU) het gesê van die grootste probleme wat hul lede ervaar, is laat betalings van salarisse, onwettige aftrekkings van salarisse vir redes soos dat die werknemer aan diens geslaap het, of vir afwesigheid.

Die unie beweer die bedryf maak nie van formele werkskontrakte of betaalstrokies gebruik nie.

Nog 'n groot probleem is dat maat­skappye glo hul bes doen om vakbonde te verdryf, wagte hul reg misken om daaraan te behoort en weier dat die vakbonde hul lede betekenisvol verteenwoordig.

'n Eienaar van 'n sekuriteitsmaat­skappy het egter beweer vakbonde steek werknemers teen hul werk­gewers op en saai onrus.

Sy beweer vakbonde sien net na hul eie sakke om.

Mnr. Christo Groenewald van Rubicon het gesê as een van die land se grootste sekuriteitsmaatskappye probeer hulle om sover moontlik die wet te gehoorsaam, maar te veel vakbonde kompeteer in die bedryf.

“Volgens die arbeidswet word 'n vakbond slegs erken as dit minstens 50% van 'n maatskappy se werk­nemers verteenwoordig. In Rubicon se geval ding tot vyf vakbonde mee om lede en altesaam verteenwoordig hulle nie eens 35% van ons werk­nemers nie,” het hy gesê.



PROBLEME MET TENDERS

Verskeie sekuriteitsmaatskappye het gekla oor die tenderproses, met tenders wat glo toegeken word aan partye wat nie noodwendig aan vereistes van die bedryf voldoen nie en boonop laer tender as wat hulle sekuriteitswagte per uur moet betaal.

Shinguadja het erken die nuwe openbare verkrygingswet en die gepaardgaande tenderproses is problematies en die ministerie van finansies sal volgende maand daaroor vergader.

Dan sal hulle die uitdagings bespreek, wat hopelik tot aanpassings sal lei, het hy gesê.

Hy het ook gesê wat die tenderproses vir sekuriteitsmaatskappye betref, moet voorstelle vir verbetering en tendervereistes vanuit die bedryf gemaak word, soos byvoorbeeld dat die maatskappye moet kan bewys hulle betaal die minimum loon of behoort aan 'n verteenwoordigende liggaam.

Sekuriteitsmaatskappye het ook gekla die regering se laat betalings vir werk wat gedoen is, ry hulle in die wiele.



'VENNOTE TEEN MISDAAD'

Genl.maj. Oscar Embubulu van die Namibiese polisie het gesê die ­sekuriteitsbedryf is sy vennote in die stryd teen misdaad en die mislukking van die bedryf sal neerkom op die ­mislukking van polisiëring in Namibië.

“Ons is een en ons moet saamwerk,” het hy gesê.

Hy het gesê die kwessie van ­sekuriteitswagte se wangedrag moet aangeroer word sodat hulle met hul beroepe identifiseer en dit hul eie maak.

Volgens Embubulu moet opleiding en gepaste dissiplinêre maatreëls verskerp word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!