Shangula: 'Ons is 4de golf se kruin oor'
Shangula: 'Ons is 4de golf se kruin oor'

Shangula: 'Ons is 4de golf se kruin oor'

Daar skyn 'n lig voor in die wapad vir Namibië in sy vierde golf.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer – Die vierde Covid-19-golf waarin Omicron die heersende variant is, is besig om stoom te verloor nadat Namibië op 19 Desember die piek bereik het.

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, sê hoewel dit baie moeilik is om wiskundige vooruitskouings te maak oor hoe lank 'n vlaag gaan duur, lyk dit of Namibië oor die hond se stert is.

“Menslike gedrag bepaal pandemies en nie wiskunde nie,” sê hy.

Hy het by navraag gesê die dertig ­Covid-19-sterftes waaroor die ­ministerie gister en eergister verslag gedoen het, kan verklaar word deur die lae inentingskoers en die groot beweging van mense tussen stede, dorpe en streke in die feestyd.

Die ministerie het gister bekend gemaak 12 sterftes weens Covid-19 is in dié verslagperiode geregistreer.

Met die uitsondering van 'n man wat in Windhoek aan die virussiekte dood is, het die ander elf in die verre noordelike dele van die land gesterf.

Altesaam vyf mense is by Onanjokwe dood, drie op Opuwo en een elk op Okongo, Nkurenkuru en Rundu. Die oorledenes was almal ouer as 40 jaar. Drie was 90 jaar en ouer.

Die oorledenes is tussen 30 Desember en 5 Januarie dood.

In Woensdag se Covid-verslag is 18 sterftes gerapporteer. Die meeste van hulle was ook in die sentraal-noordelike streke woonagtig.

Nege mense is tussen verlede Dinsdag en Vrydag dood, sewe het op Nuwejaarsdag en 2 Januarie hul stryd teen die virussiekte verloor en twee het Maandag gesterf. Almal was ouer as 30 jaar, met die ­meerderheid ouer as 60 jaar.

Altesaam 94 mense is sedert 26 November verlede jaar in Namibië aan Covid-19 dood. Dit was die dag waarop die ministerie bekend gemaak het hy neem met kommer kennis van die identifisering van die nuwe Sars-Cov-2-variant deur Suid-Afrikaanse wetenskaplikes. Dit het kort daarna die naam Omicron gekry.

'n Verdere 20 mense is sedert daardie tyd dood aan oorsake wat as Covid-verwant bestempel word.

Die totale getal sterftes sedert die begin van die pandemie was 3 572 op 26 November. Op daardie dag was die positi­witeitskoers 0,8% toe 18 uit 2 258 toetse positief was. Elf mense was in daardie stadium in hospitale en 225 990 mense was volledig ingeënt.

Gister was die positiwiteitskoers 21% (480 van die 2 283 toetse was positief) en die totale getal sterftes het op 3 686 gestaan.

Dusver het 239 203 mense beide inentings gehad en 'n bykomende 6 537 mense het hulle vir skragingsdosisse (“booster shots”) aangemeld.

Verder is 2 051 kinders tussen 12 en 17 jaar intussen ook ingeënt.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!