Sibbe se pad na roem

Walvisbaai-duo in top-10 van Maak My Famous
Jeanette Diergaardt
Jeanette Diergaardt

As ’n sangpaar staan Ayden Patrick Beukes (25) en Tamaryn Junay Beukes (22) glad nie terug vir Suid-Afrika se talent nie. Die broer-en-suster-duo het dalk in Walvisbaai begin, maar sing deesdae die Maak My Famous verhoog aan die brand.

Hul pad na roem het op 11 Februarie in Kaapstad begin, waar die kompetisie gehou word. Die top-48 is eerste opgeneem en in Maart vanjaar is die top-20 opgeneem. Op 5 Augustus sal die top-10 op KykNET uitgesaai word en Namibiërs kan ook dan stem en hul ondersteuning aan die plaaslike talent wys.

Die senuwees het geknaag toe Ayden en Tamaryn die eerste keer op die Maak My Famous verhoog gestaan het. Hulle was nie seker hoe die Suid-Afrikaanse gehoor hulle sou ontvang nie, maar nadat hulle losgestrek het met hul eerste opvoering het die senuwees in opgewondenheid verander en het hulle die warmte en aanvaarding van die gehoor aangevoel.

Die sibbe het so byna nie eens ingeskryf nie, maar ná baie aanmoediging van die Walvisbaai-gemeenskap het hulle gelukkig op nommer 99 die “leap of faith” gevat, soos Ayden dit in ’n onderhoud met Republikein beskryf het.

Die duo het op 3 Desember verlede jaar die nuus gekry van die nuwe pad wat hul loopbaan sal inslaan. Terwyl Ayden die Kersfeesboom opgemaak het, het hulle sommer ’n vroeë Kersgeskenk ontvang.

Beide het opofferings gemaak om so ver in die kompetisie te vorder. Wanneer Tamaryn nie die gehoor aan die brand sing saam met haar broer nie, red sy lewens as ’n paramedikus. Sy is by BLS geregistreer en het vir ’n jaar vir E-MED Rescue gewerk. Ayden het vir ’n jaar as ’n onderwyser by Flamingo Primary in Walvisbaai uitgehelp.

Op dieselfde dag dat hy die Maak My Famous-nuus gekry het, het hy sy aanvaardingsbrief gekry om homself as ’n onderwyser te bekwaam. Die Maak My Famous-verhoog se roepstem was ’n bietjie meer dringend as die roepstem van leergierige kinders. Albei sibbe het hul drome ’n kans gegee en so het hulle die vliegtuig na Kaapstad geklim.

Me. Baronese Barry Beukes, Ayden en Tamaryn se ma, het natuurlik altyd in haar kinders se drome geglo. Sy gee al die eer aan God en spreek opreg haar dank uit vir die nederige kinders waarmee sy geseën is.

“As ek net van hulle praat, kry ek ’n knop in my keel. Ek is ’n trotse, trotse ma.”

Tamaryn en Ayden se pa, mnr. Patrick Beukes, is nie uitgesluit nie. Hy werk op see as ’n visserman en volgens Baronese huil hy van blydskap en liefde as hy sy kinders hoor sing. Sy probeer maar altyd sterk wees en veg hard teen haar trane.

Ayden en Tamaryn sing al sedert 2013 saam en sal hopelik hul sangloopbaan as ’n duo verder neem. Hulle spreek ook hul dank uit aan almal wat hulle sover reeds ondersteun en in hulle geglo het. Aan die KykNET-span is hulle ook baie dankbaar vir die geleentheid en die afrigting.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!