Simbine pak Bolandse blits in Paarl
Simbine pak Bolandse blits in Paarl

Simbine pak Bolandse blits in Paarl

Atletiek
Die stryd tussen Suid-Afrika se vinnigste man en 'n Bolandse blits beloof om vandag een van die hoogtepunte by die Grand Prix-atletiekbyeenkoms in die Paarl te wees.

Akani Simbine, SA rekordhouer in die 100 m, sal in dié item teen 'n Paarl-boorling Henricho Bruintjies te staan kom.

Vir Simbine, wat spog met 'n vinnigste tyd van 9.89 sekondes, is dit 'n finale kans om op te skerp voor die Statebondspele in Australië se Goudkus in April. Vir Bruintjies, 'n oudleerling van Klein Nederburg, is dit 'n kans om sy slag te wys in die dorp waar hy grootgeword het.

Simbine het verlede week ná sy 100-uitdun by die SA kampioenskap in Pretoria hom weens 'n stywe dyspier aan die byeenkoms onttrek.

In sy afwesigheid het Simon Magakwe, die eerste Suid-Afrikaner wat deur die 10 sekonde-grens kon bars, die nasionale titel verower. Bruintjies het die bronsmedalje gewen.

Wat interessant is, is dat Bruintjies die laaste naelloper is wat met Simbine op Suid-Afrikaanse bodem kon afreken. Dít was toe hy in 2016 die nasionale 100-titel by die SA kampioenskap in Stellenbosch gewen het.

Bruintjies het ter wille van sy atletiekloopbaan Pretoria toe getrek en is daar geslyp, maar hy beskou die Paarl steeds as sy tuisdorp. Sy vinnigste wettige tyd in die 100 is die 9.97 wat hy in 2015 in Switserland gehardloop het. Hy het die volgende jaar in Italië 'n 9.89 aangeteken, maar die wind was toe ontoelaatbaar sterk van agter (+4.4 m/s).

“Ek sien daarna uit om tuis deel te neem. Dit was die regte besluit om Tshwane toe te trek, maar dis 'n groot ding vir my om te hardloop in 'n plek wat ek steeds as my tuiste beskou,” sê Bruintjies

Volgens Simbine pla die dyspier nie meer nie en is hy slaggereed vir die byeenkoms in die Dal Josaphat-stadion.

“Dit was vir my 'n bitter moeilike besluit om aan die SA byeenkoms te onttrek. Dit beteken baie vir my om 'n nasionale titel te wen en ek wou ook my tuisskare by Tuks met 'n goeie vertoning vergoed vir al hul steun,” sê hy.

Simbine en Bruintjies kan hul regmaak vir strawwe mededinging in die Paarl. Nie net gaan Magakwe ook daar wees nie, maar ook die SA 200-kampioen, Luxolo Adams, asook Roscoe Engel (4de in die 100-finaal by die SA byeenkoms) en Retshiditswe Mlenga, die 18-jarige atleet wat vyfde in Pretoria was in die eindronde.

 – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!