Sinagoge-skietery: 97-jarige onder slagoffers
Sinagoge-skietery: 97-jarige onder slagoffers

Sinagoge-skietery: 97-jarige onder slagoffers

’n 97-jarige vrou, twee broers en ’n paartjie in die 80 is onder die slagoffers wat die naweek in ’n aanval op die Joodse gemeenskap in Pittsburgh, Amerika, dood is.

Elf mense is dood en ses ander, insluitend vier polisielede, is gewond toe ’n swaar gewapende man Saterdag in die Tree of Life-sinagoge ingestorm en op aanbidders losgebrand het.

Robert Bowers (46), die vermeende skieter, het vroeër anti-semitiese uitsprake op sosiale media kwytgeraak, en het tydens die aanval glo oor die dood van Joodse mense geskree. Hy word van haatmisdaad aangekla en word deur die doodstraf in die gesig gestaar.

Scott Brady, die Amerikaanse staatsprokureur, het gesê dat Bowers gister voor ’n regter sou verskyn.

“Die feit dat hierdie aanval plaasgevind het tydens ’n erediens, maak dit nog meer afgryslik,” het Brady gesê.

Die Tree of Life-sinagoge is ’n konserwatiewe Joodse gemeente in ’n histories Joodse buurt, Squirrel Hill.

Die sinagoge het Saterdag omstreeks 09:45 ’n Shabbat-diens gehou toe die voorval plaasgevind het.

Vyf van die slagoffers het in Squirrel Hill gewoon en die res was van ander Pittsburgh-wyke en -gemeenskappe. Die skietery het aanleiding gegee tot veiligheidswaarskuwings by plekke van aanbidding oor die land heen en is ten sterkste deur politici en godsdienstige leiers veroordeel.

PYPBOMME

Dit volg op die hakke van ’n vlaag pypbomme wat die afgelope week aan vooraanstaande politici, meestal Demokrate, insluitend die voormalige Amerikaanse president Barack Obama, gestuur is.

David en Cecil Rosenthal (54- en 59-jarige broers), Sylvan Simon (86), en sy vrou, Bernice (84), Joyce Fienberg (75), Richard Gottfried (65), Jerry Rabinowitz (66), Daniel Stein (71), Melvin Wax (88) en Irving Younger (69) is in die aanval dood.

Die oudste slagoffer was Rose Mallinger (97) van Squirrel Hill.

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het Saterdag aan verslaggewers gesê die moorde sou voorkom kon geword het as daar ’n gewapende wag was. Sinagoge-amptenare het gesê die polisie is gewoonlik net op vakansiedae teenwoordig.

Bill Peduto, die burgemeester van Pittsburgh, het gesê dat gewapende wagte nie die antwoord is nie.

Adam Schiff, ’n Amerikaanse verteenwoordiger en ’n Demokraat wat Joods is, het Saterdag gesê dat die land ’n klimaat van haat en verdeeldheid moet beveg. Hy het gesê dat Trump nie help deur geweld te bevorder nie.

“Eerlikwaar dink ek hierdie president se hele doelwit is om ons te verdeel. Hy staan die oggend op met nuwe en vindingryke maniere om ons te verdeel,” het Schiff op CNN gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!