Sindikaat woeker glo by binnelandse sake
Sindikaat woeker glo by binnelandse sake

Sindikaat woeker glo by binnelandse sake

‘Korrupsie op ’n massiewe skaal’
Yandi du Plessis - ’n Ingeligte bron van die Teenkorrupsiekommissie (ACC) het vandeesweek aan Republikein gesê daar is glo ’n sindikaat in die ministerie van binnelandse sake en immigrasie bedrywig.

Dit sindikaat verkoop na bewering Namibiese dokumente onwettig aan buitelanders en reik glo ook onwettige geboortesertifikate aan individue buite hul gemagtigde streke uit.

Die bron meen dit is “korrupsie op ’n massiewe skaal”, en sê die “selfsugtige gedrag word ten sterkste ontmoedig”.

Volgens die bron het ’n vrou uit die noorde van Namibië, wat op die stadium slegs as “Maria” bekend staan, glo as middelman opgetree en ander mense by die sindikaat betrek.

Die uitvoerende direkteur van binnelandse sake en immigrasie, mnr. Etienne Maritz, het gesê korrupsie is ’n “groot probleem”, en verskeie soortgelyke gevalle word ondersoek.

Volgens die nasionale nuusagentskap, Nampa, het die minister van binnelandse sake en immigrasie, mnr. Frans Kapofi, tydens die ministerie se jaarlikse verwelkomingsvergadering op 10 Februarie, gesê 2020 is ‘n jaar van selfondersoek soos deur pres. Hage Geingob verklaar.

Hy het die personeel teen enige bedrog-verwante aktiwiteite gewaarsku, en het gesê die ministerie sal geen onwettige aktiwiteite of misdrywe vir persoonlike gewin duld nie.

“Diegene wat hulle aan enige onwettige aktiwiteite skuldig maak, sal aanspreeklik gehou word,” het hy gesê.

Verskeie aantygings van korrupsie by dié ministerie is aangemeld en word ondersoek.

In een van die korrupsiesake het ’n senior administratiewe beampte van die ministerie se Usakos-streekkantoor onlangs in die landdroshof op Usakos verskyn.

Me. Hilia Lisias staar klagte van oortreding van die Teenkorrupsiewet, asook die wet op immigrasiebeheer, in die gesig.

Sy verkoop glo al vanaf 2013 Namibiese dokumente aan buitelandse burgers. Sy het na bewering identiteitsdokumente, paspoorte en geboortesertifikate aan meer as 500 buitelandse burgers teen ’n koste van tot N$5 000 per dokument verkoop. Dit is ’n geskatte waarde van N$2,5 miljoen.

Sy het glo ook nie wetlike prosedures gevolg vir die uitreiking van dokumente aan Namibiese burgers nie. Mense wat in ander dele van Namibië gebore is kon prosedures omseil en die dokumente, wat glo deur Lisias uitgereik is, in Usakos bekom.

Lisias word daarvan beskuldig dat sy haar posisie vir eie gewin misbruik het. Volgens Maritz is sy op 6 November verlede jaar in hegtenis geneem en op borgtog vrygelaat. Die saak is tot 26 Maart vanjaar uitgestel.

Die ministerie van binnelandse sake en immigrasie se woordvoerder, mnr. Sakeus Kadhikwa, sê die saak is nou in die hande van die ministerie van justisie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!