Skokgolwe dalk tot in Pretoria gevoel as DRK se Kabila vasskop
Erika Gibson - Die brose vrede in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is in die weegskaal en beoogde protesoptrede deur opposisiegroepe kan selfs in Suid-Afrika weerklink as pres. Joseph Kabila nie sy pos neerlê nie.
Kabila se tweede termyn as president het gister verstryk.
Die DRK se grondwet bepaal dat hy nie ’n derde termyn mag dien nie. Die verkiesingskommissie het die verkiesing tot in 2018 uitgestel en Kabila blyk vasbeslote te wees om tot dan as president aan te bly.
Die internasionale gemeenskap waarsku dat geweld in die DRK kan losbars as Kabila vasskop.
Die DRK-regering gaan boonop die land se internet- en sosiale netwerke van middernag vannag afskakel – glo om aanstigting te ontwrig. Wat dié week gaan gebeur, gaan ’n toets wees vir die DRK se verbintenis tot demokrasie en heropbou ná dekades van burgeroorlog.
Suid-Afrika het heelwat in dié vrede belê, beleggers aangemoedig, vredesoldate bykans 15 jaar lank in die land ontplooi en self munt geslaan uit die land se minerale rykdom.
Suid-Afrika het in 2002 die Kongolese vredesamesprekings by Sun City gehuisves, terwyl die Suid-Afrikaanse weermag en ander rolspelers miljoene bestee het om die eerste demokratiese verkiesing in 2006 logisties moontlik te maak.
Die Kongolese gemeenskap in Suid-Afrika is intussen besig met sy eie “magsopbou” en dreig om môre die Kongolese ambassade in Pretoria af te brand as Kabila en Bene M’Poko, sy ambassadeur in Suid-Afrika, nie die tuig neerlê nie.
Daar was reeds soortgelyke voorvalle by die ambassades in Marokko en in Frankryk.
Die Amerikaanse departement van buitelandse sake het dié land se kommer uitgespreek dat geweld die DRK se voorland is as die laaste poging tot vredesamesprekings tussen die Katolieke Kerk se biskoppe en die Kongolese regering Vrydag en Saterdag nie ’n middeweg kan vind nie.
Didier Reynders, adjunkpremier van België, het die uitsetting van Belgiese joernaliste uit die DRK veroordeel en sy landgenote gemaan om die land te verlaat.
Geld is volgens kenners die hoofrede waarom Kabila, net soos sy voorganger en pa, Laurent-Désiré, nie sy amp wil neerlê nie. Bloomberg het die afgelope week in ’n ondersoek bevind Kabila en sy familie se sakebelange beloop honderdmiljoene dollars. Dit strek tot in elke sektor van die ekonomie – van mynbou tot energie, telekommunikasie en die bankwese.
Pres. Jacob Zuma het onder skoot van opposisiepartye in die DRK gekom dat Suid-Afrika se diplomasie en selfs sy vredesontplooiing net om eie sakegewin is.
Zuma se broerskind, Khulubuse, het olie- en diamantbelange in dié land. – Netwerk24/News24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie