Skommeling van kabinet: JSE ondersoek transaksies
Skommeling van kabinet: JSE ondersoek transaksies

Skommeling van kabinet: JSE ondersoek transaksies

Die JSE ondersoek die “wesenlike beweging in verskeie genoteerde sekuriteite, insluitende termynkontrakte op geldeenhede” toe Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, uit Londen teruggeroep is van 'n beleggingsbesoek.

Die JSE het ook transaksies in die aandele van die Guptas se maatskappy Oakbay Resources and Energy wat moontlik op markmisbruik dui, opgeskort.

Die JSE se ondersoek na termynkontrakte volg op 'n ontleding deur Stuart Theobald, voorsitter van Intellidex, oor die drastiese beweging van termynkontrakte in die rand.

“Kan iemand wins maak hieruit indien hy vooraf daarvan geweet het? Die antwoord is duidelik: Ja. Een maklike manier om dit te doen, is om termynkontrakte op die JSE te koop.”

Theobald het bereken iemand kon R42 miljoen in twee dae gemaak het indien die kontrakte uitgeneem is voordat die nuus oor Gordhan bekend geword het.

Shaun Davies, direkteur van markregulasie van die JSE, het gister in 'n verklaring gesê die JSE ondersoek die verhandeling in sekuriteite wat geraak is voor die aankondiging dat Gordhan teruggeroep is.

Volgens hom het die nuus wesenlike bewegings in die waarde van talle genoteerde sekuriteite, insluitende termynkontrakte op die rand, veroorsaak.

Sodra die JSE sy ondersoek afgehandel het, word die inligting aan die Raad op Finansiële Dienste (RFD) verskaf.

Davies sê dit is normale prosedure om die verhandeling in genoteerde sekuriteite te ondersoek voordat nuus aangekondig is wat die mark beweeg het, om sodoende enige aktiwiteit te identifiseer wat deur die RFD se departement van markmisbruik verder ondersoek moet word.



Oakbay aangemeld

Die JSE se afdeling vir markregulasie het ook ongewone aktiwiteit opgemerk ten opsigte van die bewegings in die aandeelprys van Oakbay Resources and Energy vier dae ná die beweging in termynkontrakte en die oggend nadat Zuma Gordhan afgedank het.

“Deur die roetine-monitering van verhandeling op Vrydag 31 Maart het die JSE se markregulasiespan verhandeling in Oakbay Resources and Energy se aandele geïdentifiseer wat lyk asof dit bewyse van markmisbruik kan wees.

“Die transaksies is gekanselleer. 'n Verslag is daaroor voorberei en aan die direktoraat van markmisbruik van die RFD oorhandig,” sê Peter Redman, senior tegniese adviseur in markregulasie van die JSE.

“Daar is niks wat aandui dat die maat­skappy op enige manier betrokke is by die transaksies wat plaasgevind het nie.” -Netwerk24/Fin24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!