Snuf in die neus oor spoedlokvalle
Snuf in die neus oor spoedlokvalle

Snuf in die neus oor spoedlokvalle

Dani Booysen
BESOEKER SKRYF:

Ek, my vrou, my dogter en haar drie kinders was op reis na Namibië vir vakansie in twee voertuie. Ek het voor gery en my vrou en dogter agter ons.

Ek gebruik ‘n Garmin Nuvi GPS, model 2589; nie net as gids waarheen om te ry nie, maar ook om te verseker dat ek teen die optimale spoed ry vir brandstofverbruik en natuurlik om te verseker dat ek nie spoedbeperkings oortree nie.

Vroeg in Augustus rondom die middaguur het ons Namibië vanuit Botswana binnegekom by Buitepos.

In Botswana het ons vier spoedbeheerpunte teëgekom. Ek het elke keer my GPS by die spoedperk aangepas en my voertuig se spoedbeheerstelsel op dieselfde spoed ingestel. Ek is nie in Botswana een keer gestop vir oortredings van die spoedperk nie. Dit bewys vir my dat die stelsels wat ek gebruik akkuraat is.

HOKAAI!

Met die wegtrek by Buitepos het ek my stelsels op 120 km/h ingestel. Omstreeks 13:30, sowat 18 km voor Gobabis, het ‘n polisiebeampte beduie ek moet aftrek. My vrou het sowat 500 meter verder vir my gewag.

Ek het gedink die beampte wil my bestuurderslisensie sien, maar tot my skok is ek ingelig ek het teen ‘n spoed van 126 km/u gery.

Ek het die beskuldiging uitgedaag. Ek het die beampte ingelig my spoedmeter het 121 km/u gewys. ‘n Spoedbeheerstelsel is nooit vinniger of stadiger as twee kilometer per uur as die instelling nie.

Ek het die beampte ingelig dit is eenvoudig nie moontlik dat ek ses kilometer per uur vinniger as die instelling gery het nie. Dit was ‘n reguit, plat stuk pad en my vrou het teen dieselfde spoed gery.

Die spoed van 126 km/u was duidelik sigbaar op die lokvaltoestel, ‘n Tru Speed LTI model 20/20. Die beampte het vir my die kalibreringsertifikaat gewys, wat op 15 April 2019 vir Nampol Gobabis uitgereik is.

Ek het nie nagegaan of die sertifikaat vir die spesifieke toestel uitgereik was deur die reeksnommer na te gaan nie. Ek het aanvaar dit was so.

OU TEGNOLOGIE

Deur navorsing oor die toestel kon ek nie vasstel of dit die tyd van die meting aanteken of ‘n foto neem nie. Latere modelle neem ‘n foto of video-opname. Ek kon geen tyd op die toestel sien nie.

Die toestel was op ‘n driebeen langs die pad. Volgens ‘n brosjure is dit in 2007 as ‘n bekostigbare instrument bemark – sowat 12 jaar gelede.

Ek glo nie dit is na die tyd moontlik om onteenseglik te bewys presies wanneer die lesing geneem is nie. Dit sal dus my woord teen die beampte s’n wees. Wie sal die landdros glo?

Dalk is die spoed gemeet voor ek verbygery het.

Ek het ‘n boete van N$1 000 ontvang. Ek het die twee beamptes egter ingelig ek sal die boete in die hof betwis, my tegnologie teen hulle s’n toets en my vrou as getuie inspan.

Ek het gesê ek sal dadelik na die landdroskantore op Gobabis ry om die proses aan die gang te sit.

Ek het die boete aan die staatsaanklaer gewys en gesê die toestel was foutief ondanks die kalibreringsertifikaat. Die aanklaer het gesê hy kan niks doen tot die beampte die ander afskrifte van die boete indien nie, wat eers later die dag of selfs die volgende dag sou gebeur. Eers dan sou daar ‘n rekord van die boete op die stelsel wees.

Ek kon dus eers die boete betwis wanneer ek terug in Suid-Afrika was.

HOND SE GEDAGTES . . .

Terwyl ek by die kassiere navraag gedoen het hoe ek die boete kan betaal, het ‘n ander polisiebeampte my ingelig ek kan net in kontant betaal. Agterop die boete het egter gestaan ek kan per poswissel, posorder of bankgewaarborgde tjek betaal. Sekerlik moes die beampte geweet het daar is ander aanvaarbare betaalmetodes!

Toe ek omkyk, sien ek die beampte wat my gestop het, staan by my vrou. Hy het my dus na die landdroskantore gevolg en ek moet wonder hoekom?

Hy het buite aan my vrou gesê ek moes mooi met hom gepraat het en nie so kwaad gewees het nie. Wat beteken “mooi praat” wanneer jy gestop word en beskuldig word dat jy teen ‘n spoed gery het wat jy weet nie waar is nie?

‘n Derde polisiebeampte het ook by die gesprek aangesluit en herhaal as ek mooi met hulle gepraat het, sou hulle ‘n boete uitgereik het en dat die oorspronklik beampte die boete sou kanselleer.

Daarmee het die beampte wat die boete uitgereik het, gevra ek moet die oorspronklike aan hom teruggee sodat hy dit kon kanselleer. Ek het hom bedank en gesê ek dink hy doen die regte ding.

Die vraag bly egter staan: hoekom het die beampte my na die landdroskantore gevolg? Omdat hy geweet het ek gaan die boete betwis en het bewyse en ‘n getuie om my saak te staaf?

Die laboratorium wat die toestel gekalibreer het, het my ingelig alle lokvalmeters skakel hulself af om batterykrag te spaar. Maar volgens hierdie model se gebruiksaanwysings sal die spoedlesing op die skerm bly wanneer jy enige van die knoppies druk.

Gegewe die feite, is daar nie dalk samespanning tussen sekere beamptes nie? Toevallig is 126 km/u die spoed waarteen ‘n N$1 000 boete betaalbaar is. Dit kan die spoed van ‘n ander voertuig wees of selfs die spoed van ‘n beampte se voertuig wat op die skerm gehou word? En dan moet die boete in kontant betaal word?

Vergewe my dat ek onraad bemerk, maar wat as sulke dinge regtig besig is om te gebeur? Dit kan ‘n lonende besigheid wees?

Miskien is ‘n geheime operasie nodig met die hulp van ‘n tagograaf, waarvan die meting in ‘n hof aanvaar sal word.

Ek vermoed buitelandse besoekers is dalk maklike teikens omdat dit ‘n groot ongerief is om na Namibië terug te reis om ‘n boete in die hof te betwis.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!