So Grieks as kan kom
Ronelle Rademeyer
Toe Stavros Vladislavic in 1961 mondig word, oorreed hy sy pa, Bozidar, om met die geld wat hy op ‘n partytjie sou bestee, vir hom ‘n vliegtuigkaartjie Londen toe te koop.
In Engeland oorweeg die jong Griek sy opsies. Hy beland uiteindelik op een van die Baleariese eilande naby die kus van Spanje.
In ‘n huurkamertjie naby die strand begin hy ‘n klein kafeetjie. Soggens pak hy ‘n paar plastiekstoele en tafeltjies uit en wanneer die vissermanne van die see af kom, skakel hy die perkoleerder aan.
Stavros bedien koffie en broodjies aan sy handjie vol klante. Die dae draal langsaam verby. Die eiland is stil en die besigheid swak.
Op ‘n dag ry Rosa en haar broer, Pedro, op fietse sy lewe binne. Die jong Spaanse meisie met die lang, donker hare is die mooiste wese wat hy nog ooit gesien het. Hy praat nie Spaans nie en sy verstaan nie Engels nie. Met gebare beduie sy hy moet voorraad bestel.
Drank, eetgoed, koeldranke, roomys, sigarette en tabak. Sy pak uit, maak skoon en druk kleefplakkers oral ten die mure vassit. Stavros is dronkgeslaan, maar laat haar begin.
En toe breek 1 Junie aan.
Daardie oggend is dit nie net die paar vissermanne wat kom koffie drink nie. Die strand loop vol, die karavaanpark daar naby begin wemel van die mense. Die Europese somervakansie het aangebreek en duisende vakansiegangers sak op die eiland toe.
Stavros, Rosa en Pedro kan nie voorbly om die mense te bedien nie. Sy neem die bestellings buite by die tafels, kom in, druk die velletjies papier teen die kleefplakkers vas en Stavros berei dit voor.
Hulle bestel skottels vol sardiens by die vissermanne, ryg dit aan ‘n lang stok, braai dit oor ‘n oop vuur en bedien dit, toegedraai in bruinpapier, as wegneemetes.
Die pesos rol in. Hulle maak letterlik koffers vol geld. En dan, een Sondagmiddag, beduie Rosa hulle moet die geld deel. En daardie aand vertrek Rosa en Pedro net so stil-stil weer op hulle fietse uit sy lewe uit.
Die volgende oggend is die strand eensklaps weer leeg, die karavaanpark verlate.
Met sy koffer vol pesos keer Stavros terug Londen toe. Hy ruil die geld om vir dollars en met $17 000 haal hy ‘n vliegtuig terug Suid-Afrika.
Hy koop vir hom “pinstripe”-pakke, ‘n sportmotor, ‘n waterbed en ‘n spierwit flokati-mat.
Dié storie hoor ek Vrydagaand toe ek en ‘n vriendin op die sjarmante diamantdorpie Cullinan kuier.
Stavros, nou 66, wink die kelner nader en bestel nog ‘n bottel wyn. Hy is die eienaar van As Greek as it Gets, die bekende Griekse restaurant op die dorp.
Naweke, wanneer die Gautengers op die dorp toesak, nooi dié Suid-Afrikaanse Griek met sy Demis Roussos-lyf hulle gul binne.
Van Cullinan se glorieryk diamantglans van die vroeë 1900’s is dalk nie veel oor nie.
Maar Vrydagaand het ek ‘n storievonds so groot soos die Cullinan-diamant raakgeboor.
En dit was so Grieks as kan kom.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie