Soos swaeltjies
Daar gaan nie 'n jaar verby, wanneer die Duitse paar nie na hul tweede "tuis" moet reis nie
Yochanaan Coetzee - Soos die swaeltjies van die Duitse Noordsee is daar, behalwe vir die weer, iets onbeskryflik wat mnr. Fritz Helmuth Bremer en sy vrou Stefanie dwing om hul jaarlikse migrasie na Suidelike-Afrika aan te pak.
Sedert 1988, toe Bremer die eerste keer as ’n avontuurlustige enkeling ’n vriend in Suid-Afrika besoek het, het hy en sy vrou bykans elke jaar hul vakansietye tussen Namibië en die buurlande verdeel.
“Ons voel vry hier,” sê Bremer met ’n glimlag op sy gesig en vars koffie in sy hand, toe Noorderlig toevallig met hom ’n gesprek aanknoop ná ontbyt by Hadassa Gastehuis op Otjiwarongo.
“Die mense, die natuur, die diere en die gasvryheid is onbeskryflik in Namibië en in baie dele van Suid-Afrika. Daar is soveel pragtige dinge en plekke om te sien en ervaar, en dit is toeganklik in terme van koste. Beste van alles, ons kan onsself rondry en ons eie roetes bepaal,” sê die sestigjarige wat die afgelope 44 jaar in die polisiediens op sy tuiseiland van Wangeroonge werksaam is en waar, behalwe vir die nooddienste, geen motors toegelaat word nie.
“Dis ’n pragtige plekkie, net 10km lank en sy wydste punt 7km breed. Ons is maar 1 300 inwoners, so dit is ’n unieke plek,” sê sy vrou.
So, wat maak ’n “petrolkop” sonder ’n pad om op te ry? Hy maak seker om so gereeld as wat hy kan ’n kar te kry en sy gunsteling twee lande ter wêreld te besoek.
“Dit het alles begin toe ek in 1988 by my vriend Peter in Durban gaan kuier het,” sê Bremer. “Ek wou bietjie rondkyk en toe vra ek vir Peter wat hy sou aanbeveel. Hy het onmiddellik gesê: ‘Namibië! Jy moet gaan!’
“’n Paar dae later het ek ’n ou Ford Escort met ’n ingevoerde Japannese enjin geleen en oor die volgende tien dae oor Upington na Windhoek gereis en daarna na Swakopmund en met die grondpad oor Malthoë terug na Johannesburg gery,” vertel hy soos hy voor ons deur sy herinneringe dans.
“Dit was ’n ongelooflike ervaring,” sê hy. “Een herinnering wat my altyd bybly, was toe ek in die donkernag op ’n grondpad na die Suide op pad was. Dit het gelyk asof die heelal vir my oop was. Daardie reis het só ’n bewondering vir die land by my gekweek dat ek die volgende jaar – met my fiets – teruggevlieg het Windhoek toe en van daar af oor drie weke na Swakopmund gery het,” sê hy.
“Dit was besonders. Op daardie manier ervaar jy baie meer detail van die land en jy ontmoet die gaafste en mees interessante mense,” sê hy.
“Hoewel ons nie meer so jonk is nie, geniet ons dit om hier in Namibië en meestal in KwaZulu-Natal in Suid-Afrika te toer, omdat ons program meer vry is en ons die geleentheid kry om plekke op ons eie pas te ervaar,” voeg sy vrou by.
“Die enigste probleem is padveiligheid,” sê hulle. “Dis rêrig iets waaroor ons bekommerd is. ’n Mens hoor te veel van groot ongelukke, soms op paaie waar ons die vorige dag gery het,” sê Bremer. “Maar dit sal ons nie uit die land weghou nie.
“Dit is ’n groot reis om hierheen te kom, maar solank ons fisies die reis kan aanpak, sal ons altyd na ons tweede tuiste – Suidelike-Afrika – terugkeer,” sê albei swaeltjies, voor ons groet en hulle weer in hul gehuurde motor klim en hul lewenslange avontuur voortsit.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie