'Span Swapo' vat Shanghala aan
'Span Swapo' vat Shanghala aan

'Span Swapo' vat Shanghala aan

Swaargewig politici sê die beginner' moet sy woorde tel.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - “Span Swapo” sê die prokureur-generaal, mnr. Sacky Shanghala, moet sy “onvolwasse uitsprake” in toom hou voordat hy op politieke platforms namens ander praat.

Die groep is vies vir Shanghala oor uitlatings wat hy gemaak het gedurende ‘n galadinee die afgelope naweek op Noordoewer.

Die groep bestaan uit swaargewig politici in die regerende party. Hulle sluit in die presidensiële kandidate vir die party, mnre. Nahas Angula en Jerry Ekandjo, sowel as mee. Pendukeni Iivula-Ithana, Petrina Haingura en Martha Namundjebo-Tilahum, en mnre. Helmut Angula en Arnas Amukwiyu.

Shanghala het die galadinee gebruik as ‘n geleentheid om voorspraak te maak vir president Hage Geingob se kandidatuur vir Swapo se presidensie.

Hy het glo gesê Span Swapo is ‘n “koalisie van mense wat kwaad is” en het hul integriteit bevraagteken.

Hy het ook aangevoer Ekandjo en Iivula-Ithana gebruik regeringsvoertuie in hul verkiesingsveldtogte vir die topvier posisies wat by die Swapo-kongres beslis gaan word.

Shanghala het die span as “masalads” beskryf, ‘n term wat skynbaar gebruik word vir mense wat hard probeer om Westers voor te kom. Hy het hulle ook van stamgebondenheid beskuldig.

“Sacky Shanghala is nie gekwalifiseerd om enige verklarings by ‘n Swapo-funksie te maak nie. Hy is nie ‘n regspraktisyn nie en probeer die wet op die verkeerde plek te praktiseer. Om stellings te maak oor mense wat oud genoeg is om sy ouers te wees, is ‘n duidelike voorbeeld van ‘n individu wat nie kultureel geanker is nie. Ons verstaan egter dat hy vir sy aandete sing,” lui die onvleiende verklaring.

Die span het hom aangeraai om “liewer sy aandag te bepaal by die N$47 miljoen wat onder twyfelagtige omstandighede uit die nasionale tesourie betaal is aangesien hy ‘n direkte hand in die kwessie het”. (Sien berig op bl. 3).

Ook sê dié faksie hulle word nie geïntimideer of afgeskrik deur ‘n “politieke beginner” soos Shanghala “wat bekommerd moet wees oor sy plek as iemand wat nie ‘n regspraktisyn ná die kongres is nie”.

By navraag hieroor, was die prokureur-generaal se antwoord gister 'n kort en bondige: “Ek het geen kommentaar nie.”

MARIENE FOSFAAT-ONTGINNING

Terwyl Shanghala gewikkel is in die omstredenheid van miljoene wat aan Britse regslui in die volksmoordsage betaal is, is berig dat hy weer eens by Britse kenners aangeklop het.

Dié keer om die moontlikheid van mariene fosfaat-ontginning in Namibiese waters teen ‘n koste van N$4,5 miljoen te ondersoek.

Hy het glo agt Engelse wetenskaplikes en die Namibiese regsgeleerde Stanley Kambonde vir dié doel genader.

Hy ontken dit egter en het by navraag gesê: “Dit word kategories ontken dat ek Engelse kenners betrek het.”

Shanghala het wel gesê dit is nie vreemd om kenners elders te raadpleeg nie en het bygevoeg sy kantoor het altyd ‘n jaarlikse vrystelling met betrekking tot die verkryging van regsdienste.

Shanghala het gesê hy wou ‘n voorstel vir geld hiervoor aan ‘n kabinetskomitee onder die voorsitterskap van mnr. Tom Alweendo maak, maar voor hy dit kon doen, is sy voorneme in die media op die lappe gebring.

Hy het dit as “afbrekend” beskryf en het bygevoeg: “(Joernaliste) moet ‘n waardige houding oor hul werk inneem. Helaas, dit is nie die enigste keer dat ek hierdie opmerking maak nie, maar van my pleidooi sal niks kom nie.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!