Spanning laat ANC uitrafel
Spanning laat ANC uitrafel

Spanning laat ANC uitrafel

Die temperatuur binne die ANC is in die aanloop tot die party se leierskapsverkiesing in Desember vinnig besig om te styg.

Die chaotiese en gewelddadige Oos-Kaapse provinsiale verkiesingskonferensie in Oos-Londen, moontlike regsaksie deur ongelukkige ANC-lede in die Noord-Kaap, en onenigheid oor of die party moet appelleer teen 'n onlangse hofbeslissing dat sy provinsiale leierskapsverkiesing in 2015 in KwaZulu-Natal ongeldig was, is bewyse hiervan.

Skokgranate moes Saterdagaand buite die konferensielokaal in Oos-Londen gebruik word om faksies onder beheer te kry en daar was in die vroeë oggendure 'n geveg tussen afgevaardigdes wat veroorsaak het dat agt mense in die hospitaal opgeneem is.

Die NUK het verlede Vrydag op 'n buitengewone vergadering besluit om 'n regsmening van 'n senior advokaat oor 'n moontlike appèl aan te vra wat op die naweek se NUK-vergadering bespreek sou word.

Die verwagting was boonop dat 'n aansoek om 'n interdik deur ontevrede afgevaardigdes laat Sondag aangehoor sou word.

Oscar Mabuyane, wat adj.pres. Cyril Ramaphosa in die ANC-leier­skapstryd steun, is op dié vergadering tot voorsitter van die ANC in die Oos-Kaap verkies.

Ná die vergadering van die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die party wat die naweek in Irene, Centurion, gehou is, het pres. Jacob Zuma en die res van die ANC se topses met die strydende faksies in KwaZulu-Natal vergader om 'n politieke oplossing te soek voor die nasionale konferensie wat in Desember in Johannesburg plaasvind.

Zuma sou aanvanklik Sondagmiddag 'n toespraak in Ga-Rankuwa, noord van Pretoria, gehou het ter viering van internasionale dag vir bejaardes.

Jeff Radebe, 'n minister in die presidensie, is in sy plek daarheen gestuur.

City Press het Sondag berig net een van die twee regsmenings oor 'n moontlike appèl teen die beslissing van die hooggeregshof in Pietermaritzburg teen die party se provinsiale komitee is aan die vergadering voorgelê “en sonder enige bespreking” aanvaar.

Daar is na die ander verslag verwys, maar geen besonderhede is bekend gemaak nie.

Die NUK het verlede Vrydag op 'n buitengewone vergadering besluit om 'n regsmening van 'n senior advokaat oor 'n moontlike appèl aan te vra wat op die naweek se NUK-vergadering bespreek sou word.

Die Sunday Times het berig Zuma het vir 'n afsonderlike regsmening gevra in 'n poging om 'n politieke skuif van die NUK, wat moontlik 'n ernstige knou kon inhou vir dr. Nkosazana Dlamini-Zuma se ambisie om as ANC-president by hom oor te neem, te keer.

Die mening wat Zuma glo ontvang het was dat daar geappelleer moet word teen die hofbeslissing.

Die NUK was nie hiervoor te vinde nie, en het voorgestel Zuma en die res van die ANC se topses moet eerder met beide groepe in KwaZulu-Natal vergader en 'n politieke oplossing probeer vind.



topses

Die topses is Zuma, Ramaphosa, Baleka Mbete, voorsitter, Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, dr. Zweli Mkhize, tesourier-generaal en Jesse Duarte, adjunk-sekretaris-generaal.

Die twee strydende groepe in KwaZulu-Natal word gelei deur Senzo Mchunu, wat in 2015 met die onwettige verkiesing uitgestem is as provinsiale voorsitter, en Sihle Zikalala, wat toe voorsitter geword het.

Die Sunday Times het geskryf Zuma se skuif dui op hoë vlakke van wantroue en spanning in die party se topleierskap in die aanloop tot die nasionale verkiesing.

Die ongelukkige ANC-lede in die Noord-Kaap dreig met regsaksie om die ANC se leierskapskonferensie wat in Mei gehou is, ongeldig te laat verklaar en te keer dat vier streekskonferensies in ­November plaasvind.

Die ANC sal Maandag in Johannesburg 'n mediakonferensie hou oor die naweek se NUK-vergadering. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!