Splinternuwe paspoort sonder stempels
Splinternuwe paspoort sonder stempels

Splinternuwe paspoort sonder stempels

Francoise Steynberg
Ek is baie trots op al my ou paspoorte met hul stempels, visums en my geelkoorskaart.

Elke ou paspoort van my vertel mooi verhale en is kosbare herinneringe van al die lande waar ek al in die wêreld was.

Die geelkoorskaart het ook ’n storie en dit behels Republikein se voormalige spotprenttekenaar, oorlede Gene Travers. Ek moes geelkoorsinspuitings kry voor ek Indië toe is, asook voor ek Kongo toe is om gorillas in die woude te gaan kyk.

Gene het met bewende hande vir my die geelkoorsinspuiting in ons redaksie se raadsaal in my bo-arm ingespuit. Hy het gemaak of hy ’n kundige met ’n inspuiting is, maar dit was só seer!

Die visum wat ek die maklikste in ’n vreemde taal en land gekry het, was op die Félix Houphouët Boigny Internasionale Lughawe in Abidjan, Ivoorkus. Alhoewel die immigrasiebeampte net Frans kon praat en ek in Engels op al sy vreemde vrae geantwoord het, is my visum tjoef-tjaf in my paspoort geplak.

My naweek by Assinië by ’n meer aan die kus van die Ivoorkus was een van my mees idilliese wegbreekreise ooit.

Nou is ek die gelukkige eienaar van ’n splinternuwe paspoort wat vir tien jaar geldig is – sonder enige stempels of visums. Ek was so opgewonde toe ek ná die agterstand van paspoorte en lank staan in ’n rye by die ministerie van binnelandse en immigrasie uiteindelik in Januarie my kraakvars paspoort gekry het.

Ek is Dubai toe genooi, maar daarvan het ook dadels gekom – soos alles waarvan daar dadels gekom het toe die Covid-19-pandemie uitgebreek het. Dadels het ook nie in drank verander nie.

Nou sê die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) internasionale lugreise gaan nie gou herstel nie – dalk nie voor 2023 nie. Niks gaan gou herstel nie, veral nie ons reusagtige finansiële verliese wat ons tydens hierdie nare pandemie ly nie.

Ek is geensins mal oor vliegtuie of lughawens nie. Ek het al vlugte verpas en my hartseerste koebaais op lughawens gesê. Tog is ek verslaaf aan reis – of dit nou met die langpad of met ’n trein, boot of bromponie is.

’n Lugreis en vaal vliegtuigkos kan ek verdra as ek sinuspille teen oorpyn of oorpluisies teen stout, skreeuende kinders het.

Nou reis ons maar binnelands. Ons moet nou plaaslike toerisme bevorder om werksverliese te voorkom en te sorg dat omgewingsbewaring voortduur. Hoe minder inkomste daar vir toerisme is, hoe meer gaan mens-dier-konflik en stropery gedy. Ons kan nie nog ons kosbare fauna en flora ook verloor nie.

Klim in jou 4x4, karretjie, skôrrô-skôrrô of donkiekar met jou masker aan. Pak jou tent, driebeenpot, stapskoene, sonhoed en kamera en reis in ons beeldskone land.

Daar is soveel weggesteekte juwele van plekke in Namibië wat ons nog nie gesien het nie. Gaan ry op die agterpaaie en ontdek die asemrowende geheime wegsteekplekke in ons land.

Die lewe is immers ’n onbekende, maar avontuurlike reis. Geniet die reis!

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!