Spotify word 10
Spotify word 10

Spotify word 10

Petrus Malherbe – Die internasionale musiekstromingsdiens Spotify vier vandeesmaand sy tiende verjaardag.

Die diens het aanvanklik op 7 Oktober 2008 in ’n handjievol Skandinawiese lande afgeskop voordat dit gaandeweg na die uithoeke van die wêreld uitgebrei het.

In Maart vanjaar het Suid-Afrika die eerste land in Afrika geword waar Spotify beskikbaar is.

Spotify het deesdae 180 miljoen gebruikers wat aktief elke maand na musiek daarop luister, en waarvan meer as 83 miljoen vir die diens betaal.

Die gratis opsie van Spotify word deur advertensies ondersteun.

Ten spyte van die groot aantal gebruikers wat nie ’n sent vir die diens betaal nie, het Spotify steeds oor die afgelope tien jaar meer as R168 miljard in tantième aan kunstenaars uitbetaal.

As maatskappy het Spotify vroeg in April op die New Yorkse aandelebeurs teen ’n aanvanklike aandeelprys van ongeveer $155 genoteer. Die aandeelprys het teen einde Augustus ’n hoogtepunt van $195 bereik voordat dit weer teruggesak het tot onder $150 waar dit steeds ronddobber.

Die gewildstes op Spotify

Ter viering van sy tiende verjaardag het Spotify bekend gemaak watter kunstenaars oor die laaste dekade die gewildste op die platform was.

Die Kanadese rapper Drake het in Julie vanjaar die rekord laat spat toe sy jongste album, Scorpion, binne 24 uur meer as 132 miljoen keer op Spotify gestroom is. Dit is die meeste stromings nog op ’n enkele dag.

Trouens, Scorpion verskyn ook op Spotify se lys van mees gestroomde albums van alle tye, in die sewende posisie.

Ed Sheeran se jongste album, Divide, is in die eerste plek, gevolg deur Justin Bieber se Purpose.

Ander albums op die lys sluit in twee van The Weeknd (Starboy en Beauty Behind The Madness), sowel as twee van Post Malone (Beerbongs & Bentleys en Stoney).

Spotify het egter nie bekend gemaak presies hoeveel keer na die albums op sy top-10-lys geluister is nie.

Elke jaar se gunstelingliedjies

Buiten vir die gewildste albums van die afgelope dekade, het Spotify ook ’n lys van elke jaar se gewildste liedjie saamgestel.

Daarvolgens was The Killers se “Human” byvoorbeeld die gunstelingliedjie in 2008, Eminem en Rihanna se “Love The Way You Lie” 2010 s’n en Pharrell Williams se aansteeklike “Happy” die gewildste in 2014.

Ed Sheeran se “Shape of You” was 2017 se gewildste snit.

Luisteraars het al byna 17 miljoen jaar se musiek op Spotify gestroom.

Die diens is in 2008 deur Daniel Ek en Martin Lorentzon van Swede begin. Dit ding veral mee met Apple Music, Google Music en Deezer, en plaaslike ook met Joox en Simfy Africa.

Dit is beskikbaar in die Google Play-winkel sowel as vir iOS en kos R59,99 per maand in Suid-Afrika vir die premium-opsie. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!