Staatsamptenare vas oor ivoor
Staatsamptenare vas oor ivoor

Staatsamptenare vas oor ivoor

Twee gerespekteerde beamptes van die regering het onlangs in verband met olifantstropery in die Noordooste in howe verskyn.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Die streekhoof van die ministerie van inligting- en kommunikasietegnologie in die Kavango-Oosstreek, mnr. Johannes Joachim (59), het Maandag in die hof op Rundu in verband met olifant­stropery verskyn.

Hy is verlede Donderdag in hegtenis geneem in verband met die onwettige besit van beheerde wildprodukte. Hy is aangekla van die jag op beskermde wild op die plaas Satoka in die Kavango-Oosstreek, volgens speurinspekteur Chripin Mubebo, die waarnemende koördineerder van misdaadondersoeke in dié streek.

Twee olifanttande en nege duikerkarkasse is na bewering in Joachim se besit gevind.

Landdros Barry Mufana het die be­skuldigde op borgtog van N$10 000 vrygelaat en die saak tot 13 Desember uitgestel vir Joachim om regsverteenwoordiging te bekom.

Mnr. Tjeripo Muruko het vir die staat verskyn.



SKOOLHOOF VAS

Voorts het ''n skoolhoof in die Zambezistreek ook onlangs vir olifant­stropery in die hof verskyn. Die gerespekteerde skoolhoof van die Senior Sekondêre Skool Simataa in die Linyanti-kiesafdeling, mnr. John Lutibezi (52), is een van vier verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle ''n olifantstroperysindikaat bedryf.

Lutibezi en nóg twee Namibiese be­skuldigdes, mnre. Samzala Vasco Samunzala en Meki Mbanga, en ''n Zambiese burger wat glo getroud is met ''n Namibiese vrou, mnr. Stanley Wamunyima, is in hegtenis geneem in verband met die stropery van drie olifantbulle.

Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, is die eerste olifantkarkas deur die gemeenskap op 11 Oktober ontdek. Nog twee karkasse is vyf dae later in die Salambala kommunale bewaringsgebied gevind.

“Die polisie het verdere ondersoek ingestel en die verdagtes gevolg en beslag gelê op vier olifanttande, ''n .375-jaggeweer met ''n knaldemper en teleskoop, ''n bosmes, ''n tradisionele byl en ''n aantal rondes ammunisie.”

Volgens Muyunda word nóg ''n paar olifanttande steeds vermis.

''n Klag van stropery is by die Ngoma-­polisiekantoor teen die vier verdagtes aanhangig gemaak. Die beskuldigdes het op 19 en 20 Oktober in die landdroshof op Katima Mulilo verskyn waartydens Samunzala, Mbanga en Wamunyima borgtog geweier is.

Die skoolhoof is op borgtog van N$5 000 vrygelaat op voorwaarde dat hy twee keer ''n dag by die Chichimane-­polisiekantoor aanmeld.

Altesaam 67 olifante is sedert die begin van vanjaar vir hul ivoor afgemaai. -Nampa en eie berig

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!