Steinhoff: 7 dinge wat jy moet weet oor hul state
Beleggers moes hoor wat hulle gedink ’n wins van €711 miljoen was, was eintlik ’n verlies van €362 miljoen.
Nellie Brand-Jonker – Steinhoff se halfjaarverslag toon onder meer hy dok R5,7 miljoen per dag aan konsultante op en dat hy ’n vliegtuig teen ’n verlies van R80 miljoen moes verkoop weens nood.
Hier is sewe dinge wat jy moet weet oor die eerste finansiële state wat Steinhoff uitgereik het sedert die skokgebeure in Desember:
1. Reuseafskrywings weens ongerymdhede: Steinhoff se bates is met €12,3 miljard (sowat R197 miljard) heraangegee. ’n Jaar gelede in die resultate van die jaar tot einde Maart is aan beleggers gesê Steinhoff het €34,6 miljard se bates. Vrydag is daardie bedrag van Maart 2017 heraangegee as €22,3 miljard. Die nuwe syfers word spesifiek onder ’n nota in die state vir die halfjaar tot einde Maart gehanteer. Dit toon die “bestuur se beste raminge” wat tot dusver uit die ondersoek na sy boeke gedoen is. Die syfers wat heraangegee moes word, hou verband met die oordrywing van wins, transaksies wat nie op ’n armlengte (teen markwaarde) met verwante partye plaasgevind het nie en die afskrywing van lenings tussen die partye. “ ’n Deel van die afskrywing is omdat Steinhoff die laaste paar jaar oorbetaal het vir bates. Die gewenste voordele het nie gerealiseer nie en derhalwe moet afskrywings nou gedoen word op sy ontasbare bates,” sê Casparus Treurnicht, ’n portefeuljebestuurder van Gryphon Batebestuur. Nog iets wat heraangegee is, is sy €3 miljard kontant en bronne wat hy laas jaar Maart gehad het, wat nou ’n negatiewe € 2,4 miljard is. Geen behoorlike verduideliking word daarvoor gegee nie.
2. Wins verander in verlies: ’n Jaar gelede het beleggers gehoor die maatskappy het ’n wins van €711 miljoen in die halfjaar tot einde Maart gemaak. Nou is daar aan hulle gesê daardie wins het nooit bestaan nie en was eintlik ’n verlies van €362 miljoen.
Die wins is heraangegee nadat oordrewe inkomste opgemerk is in die ondersoek wat sedert Desember na Steinhoff se boeke gedoen word.
Dit word toegeskryf aan die foutiewe toepassing van die groep se rekenkundige beginsels in die verlede, asook transaksies wat nie op ’n armlengte (teen markwaarde) plaasgevind het nie, wat nou omgekeer word. Boonop het die verlies in die afgelope halfjaar tot €599 miljoen toegeneem weens die impak van die gebeure by Steinhoff op sy bedrywighede, asook swak handelstoestande.
3. Voortsetting in afsienbare toekoms: Groot kopsere lê vir die maatskappy voor om sy sake in die afsienbare toekoms voort te sit. Dit sluit in:
· Dat die herstruktureringsplan waaroor met skuldeisers ooreengekom word, suksesvol onderhandel en toegepas word. Dit is noodsaaklik sodat die groep as ’n lopende saak kan voortgaan. “Steinhoff se voortsetting as ’n lopende saak word bepaal deur krediteure en hul bereidwilligheid om verdere krediet te verskaf. Hoewel Steinhoff nog nie tegnies bankrot is nie kan dit wel gebeur indien krediteure hul vensters en deure toemaak vir Steinhoff,” sê Treurnicht.
· Voortgesette kontantvloeiprobleme: Die groep word steeds deur ’n kontantvloeikrisis in die gesig gestaar. Die onsekerheid wat die ongerymdhede in Steinhoff se boekhouding en die voortgesette forensiese ondersoek daarna skep, het daartoe gelei dat sekere van die groep se bank- en kredietgeriewe onttrek is. In die halfjaarstate word gesê die likiditeitsposisie bly problematies.
4. Bates teen afslagpryse verkoop: Besonderhede van die bates wat die afgelope maande verkoop moes word om kontant te skep, word uiteengesit. Dit toon bates is teen wesenlike afslagpryse en verliese verkoop. Dit sluit in ’n vliegtuig wat in Januarie 2017 gekoop is en in Januarie vanjaar teen ’n verlies van R80 miljoen verkoop is.
5. Peperduur konsultante: Van Desember tot einde Maart het Steinhoff €39 miljoen aan konsultante en adviseurs betaal om sy probleme te help uitsorteer. Daar was 79 werkdae in dié tydperk. Dit beteken die maatskappy het sowat €493 670 of R7,9 miljoen per dag aan die konsultante betaal. Selfs al neem ’n mens aan die konsultante en adviseurs het ook naweke gewerk, het hulle steeds hul €336 206 of R5,4 miljoen per dag gekry. As gevolg van die gebeure in Desember, moes Steinhoff talle adviseurs aanstel soos regsadviseurs (Linklaters en Werksmans); konsultante wat die groep help met die samesprekings met krediteure (Moelis), konsultante wat help met likiditeitsbestuur (AlixPartners) en konsultante vir die forensiese ondersoek (PwC) en eksterne ouditeur (Deloitte). “Die koste gaan na verwagting wesenlik styg totdat die herstruktureringsplan met sy skuld afgehandel is,” lui die state.
6. Forensiese ondersoek: Meer inligting is beloof oor die forensiese ondersoek, daar het nie werklik veel meer aan die lig gekom nie. PwC beplan steeds om einde vanjaar sy verslag uit te reik. Wat ons weet uit die state sluit in:
· Die geldigheid en verhaalbaarheid van sekere bates word ondersoek. Die oordrywing is aanvanklik op sowat €6 miljard geraam.
· ’n Belangrike fokusgebied van PwC se ondersoek is sekere maatskappye wat nie op Steinhoff se boeke verskyn nie en transaksies met hulle, waaronder transaksies met spesifieke partye.
· As deel van die ondersoeke is sekere transaksies wat nie op ’n armlengte (teen markwaarde) plaasgevind het nie, geïdentifiseer.
· Die groep se fokus is om alle transaksies met verwante partye en wat nie op ’n armlengte plaasgevind het nie te identifiseer en korrek op sy boeke aan te dui.
· Die groep is in die proses om te bepaal of lenings en bates wat deel van die transaksies was, verhaal kan word.
· Daar is gevalle waar geen sekuriteit beskikbaar is by die entiteit aan wie die lenings toegestaan is nie, of waar Steinhoff nie voldoende inligting het om te bepaal of dit herwinbaar is nie.
· Die ondersoeke tot op hede het die oordrywing van winste aan die lig gebring. Dit spruit daaruit dat die inkomste opgeblaas is deur sekere transaksies.
7 . Wesenlike onsekerhede: In die lig van die gebeure wat daartoe gelei het dat die groep se finansiële state teruggetrek moes word, word beleggers se aandag gevestig op die wesenlike vlak van ramings en oordele in die halfjaarresultate. “Die ongeouditeerde 2018-halfjaarresultate is gegrond op die bestuur se beste ramings . . . hierdie ramings kan wesenlik verander indien nuwe inligting onthul word in die voortgesette ondersoek,” lui die state. Dit sluit in die belastingimplikasies van al die syfers wat heraangegee is. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie