Stella-moorde: Haar WhatsApps nadat sy sterf
Stella-moorde: Haar WhatsApps nadat sy sterf

Stella-moorde: Haar WhatsApps nadat sy sterf

Johan Eybers - Kort nadat Sharnelle Hough in die skoolkoshuis by die Hoërskool Stella vermoor is, is twee ysingwekkende WhatsApp-boodskappe van haar foon af na haar ouers gestuur.

“Pappa ek is jammer ek en marna sal van di plek af weg gaan,” lui die boodskap wat om 04:17 aan haar pa, Ronnie Hough, gestuur is.

“Mamma ek wil net se eks lief vir mamma en ek is jame,” lui die boodskap wat haar ma, Sonja, ’n minuut tevore gekry het.

Maar teen die tyd dat die twee boodskappe, op die oog af twee selfmoordbriefies, van Sharnelle se foon gestuur is, was die 17-jarige meisie en haar beste vriendin reeds dood.

Rapport verneem betroubaar die polisie ondersoek die moontlikheid dat Xander Bylsma (19), hul vermeende moordenaar, dié boodskappe van sy eksmeisie se selfoon gestuur het om dit te laat lyk asof sy haarself om die lewe gebring het.

Spelling

Sonja sê dit is heeltemal moontlik omdat Bylsma die wagwoordpatroon van haar dogter se selfoon geken het. Sonja sê sy is oortuig dis nie haar dogter wat die boodskap gestuur het nie.

“Die spelling van die boodskap lyk nie soos my dogter s’n nie. Sy sal nie jammer uitskryf nie. Sy sal jmr in ’n boodskap gebruik.”

Die vreemde boodskap het haar ontstel en sy het dadelik vir Sharnelle se vriendin Marna ’n boodskap gestuur om te vra of Sharnelle by haar is, maar sy kon sien dat Marna om 01:43 laas aktief was op WhatsApp. Sy het daarna haar eksman gekontak om te hoor of hy iets oor die meisies se welstand en planne weet. Twee uur later het hulle die ontstellende nuus ontvang dat Sharnelle glo haarself aan ’n trapreling van die skoolkoshuis gehang het.

Marna se lyk is in ’n badkamer op die vloer gekry. Ure daarna het Xander volgens die polisie ’n bekentenis afgelê.

’n Onberispelike bron na aan die ondersoek het aan Rapport gesê die legkaart oor wat aanleiding gegee het tot die tragedie begin nou in plek val.

Besitlik

Xander was volgens die bron baie besitlik oor Sharnelle toe hulle nog saam was en het ’n klomp “reëls” vir haar neergelê, onder meer dat sy nie haar beenhare mag skeer nie.

Volgens Sonja het haar dogter die verhouding twee maande gelede beëindig omdat Xander haar afgeknou het.

Ronnie sê sy dogter het hom drie weke gelede voorgestel aan ’n nuwe kêrel, ’n 17-jarige seun wat saam met haar op skool is en ook in die koshuis woon. Albei ouers het geglo hul dogter het nie meer kontak met Xander nie, maar hulle was verkeerd.

Xander het steeds eise aan Sharnelle gestel, onder meer deur haar te “verbied” om die Donderdag voor haar dood na ’n skoolsokkie te gaan. Sharnelle het haar egter nie daaraan gesteur nie en is saam met haar nuwe kêrel na die sokkie. Xander het toe blykbaar daar opgedaag en die nuwe kêrel gedreig. Die seun het die afgelope week aan Rapport gesê die polisie het hom gevra om nie te veel te sê nie.

“Al wat ek kan sê, is dat hy my ’n paar keer geïntimideer het. Die laaste keer was toe hy my by die sokkie voorgekeer het.”

Skei

Die Vrydagaand voor hul dood was Sharnelle en Marna alleen in die koshuis, wat gewoonlik naweke gesluit is, omdat hulle die Saterdagoggend vroeg Koster toe sou gaan vir ’n sportbyeenkoms. Albei meisies was pompommeisies wat by die byeenkoms sou optree.

Rapport se bron sê hulle het die matrone gevra om die veiligheidshek oop te los omdat iemand vir hulle klere moes bring. Dit was glo Xander op wie hulle gewag het. Volgens die bron vermoed die polisie Xander wou die meisies alleen kry.

“Hy het dit reggekry om die twee van mekaar te skei voordat hy sy planne uitgevoer het. Hy moes dit alles baie vinnig gedoen het sonder dat die matrone of die rugbyspelers in die ander vleuel van die koshuis kon hoor.”

Die bron sê Marna is vermoedelik eerste verwurg in die badkamer van die koshuis.

“Hy het haar as ’n struikelblok beskou vir sy verhouding met Sharnelle.”

Daarna het hy glo vir Sharnelle verwurg en die moorde soos ’n dubbele selfmoord laat probeer lyk. Sharnelle het aan ’n tou aan die trapreling gehang. Die matrone het vroeg die volgende oggend op Sharnelle se lyk afgekom.

Die polisie se ondersoek moet nog bepaal of Sharnelle met die tou verwurg is en of sy daarmee opgehang is nadat sy vermoor is. Met Rapport se besoek aan die koshuis was die plastiekomhulsel van die trapreling gebreek en toumerke was sigbaar.

Geskok

Diegene wat Xander, ’n oudleerling van dieselfde skool, ken, was geskok om te hoor hy is in hegtenis geneem.

Dawie Jacobs, ’n vriend van Xander van Hartswater in die Noord-Kaap, sê nadat hy matriek geskryf het, het Xander geld verdien deur roofdiere op boere se plase te beheer en het veral jakkalse in die omgewing teen betaling geskiet.

Volgens hom het Xander ’n vriendelike en aangename persoonlikheid.

Xander het Maandag in die landdroshof in Stella verskyn op twee aanklagte van moord. Hy wou nie aansoek doen om borgtog nie, omdat hy vrees vir sy veiligheid. Intussen het hy aangedui dat hy wel wil aansoek doen om borgtog. Dit word op 20 Junie aangehoor. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!