Stella: Pa soek lang straf nu00e1 dogter se moord
Stella: Pa soek lang straf nu00e1 dogter se moord

Stella: Pa soek lang straf ná dogter se moord

Die doodstraf sou vir sy dogter se moordenaar te maklik gewees het, want dan is hy te “vinnig verlos van alles”, het Ronnie Hough, pa van Sharnelle Hough (17), gesê.

Hough het gesê daar is nie ’n straf wat sal kan opmaak vir dit wat aan sy dogter gedoen is nie.

Sharnelle se ekskêrel, Xander Bylsma (19), is in hegtenis geneem vir die moord op Sharnelle en sy kleinniggie, Marna Engelbrecht (16), verlede naweek in die koshuis by die Hoërskool Stella in Noordwes.

Sharnelle en Marna, beste vriendinne, is vermoedelik albei verwurg. Xander het ná sy inhegtenisneming ’n bekentenis afgelê, maar die inhoud daarvan sal moontlik eers later in die hof bekend gemaak word.

Hough het gesê die tronk “is nie ’n lekker plek nie” en as Sharnelle se moordenaar jare lank agter tralies moet deurbring, “gaan hy nie ’n lekker tyd daar hê nie”.

Hough sê as hy net een vraag vir sy dogter se vermeende moordenaar kon vra, sou dit eenvoudig wees “hoekom?”.

Sonja, Sharnelle se ma, het gesê sy het nou tyd nodig om te rou en wil nie meer kommentaar lewer nie. Sy wag nou vir die hofsaak om te begin.

Ronnie sê Xander was besitlik oor Sharnelle, maar het haar voor hom “mooi” en “ordentlik” behandel. “Hy het hom goed gedra.”

Volgens Ronnie het hy ná die moorde met Xander, wat in die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng aangehou word, se ouers, Mercia en Monty, gepraat. Hy sê hulle verstaan ook nie wat gebeur het nie. Hough sê niemand het ooit ’n slegte woord oor sy dogter gesê nie, maar haar beskryf as die “pragtigste kind”.

Marietjie Aucamp, Marna se tannie, het gesê: “My broer (Stefans “Stefaans” Engelbrecht, Marna se pa) is verpletter.”

Sy het bygevoeg dat hy nie die saak net sal los nie, maar sal toesien dat geregtigheid geskied.

Volgens haar is Xander se pa “ ’n goeie mens” en hy gaan self deur “ ’n helse tyd”.

“Hy kry baie swaar,” het sy van nabye vriende verneem.

Volgens Aucamp rou hy oor sy eie seun, maar ook oor die twee vermoorde meisies.

MOONTLIKE BORGAANSOEK

Intussen het Moolman Wessels, Xander se prokureur, gesê hy het nog geen opdrag gekry om voort te gaan met ’n borgtogaansoek vir Bylsma nie.

Hy het met sy eerste hofverskyning op twee aanklagte van moord verlede Maandag in die Vryburg-landdroshof nie aansoek om borgtog gedoen nie. Die saak is tot 6 Augustus uitgestel.

Wessels sê verskeie faktore moet nog oorweeg word vóór ’n moontlike borgaansoek. “Sy emosionele toestand en wat presies in sy psige gebeur het, sal ook eers geëvalueer moet word.”

Volgens Wessels gaan hy en Ferdi van Heerden, Xander se advokaat, eers volgende week behoorlik met Bylsma konsulteer.

Wessels sê Xander was glo “emosioneel” toe hy in hegtenis geneem is, maar dit is niks buitengewoon nie. “Xander was deurmekaar en onseker oor wat volgende gaan gebeur. Hy was maar ontsteld soos enigiemand in sulke omstandighede sou wees.”

Wessels het Sondag gesê hy kan nie kommentaar lewer op ’n “geweldige spul bewerings” wat gemaak word sedert die moorde nie. Die bewerings sluit onder meer in dat die moontlikheid ondersoek word dat Xander ná die moorde WhatsApp-boodskappe van Sharnelle se selfoon gestuur het om die indruk te wek dat sy en Marna selfdood gepleeg het. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!