Student deel kwarantyn-ervaring
Student deel kwarantyn-ervaring

Student deel kwarantyn-ervaring

Studente wat na Suid-Afrika vir hul studies terugkeer, moet seker maak hulle het die nodige permitte.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg



Te midde van die Covid-19 pan­demie is die proses vir ­Namibiese studente om terug te keer na Suid-Afrika om hul studies voort te sit 'n bron van kommer.

Republikein het die kans gehad om met 'n student oor haar ervaring in kwarantyn te gesels.

Lihandri van Schalkwyk (23) is 'n student aan die Universiteit van ­Johannesburg (UJ) en was tot onlangs in kwarantyn by die StayEasy Eastgate-hotel in Johannesburg.

Van Schalkwyk is in kwarantyn ­negatief vir Covid-19 getoets. Sy studeer oogkunde en is deur haar universiteit ingelig sy is deel van die studentegroep wat moet terugkeer om hul studies voort te sit. Dít nadat die buurland aangekondig het 33% van studente moet na hul onderskeie kampusse terugkeer.

“Ongeveer twee weke gelede het ek gehoor ek moet terugkom kampus toe. Dit was omtrent 'n deurmekaar­spul. Ek moes uitvind hoe ek gaan ­terugkom in Suid-Afrika en hoe die hele proses gaan werk,” sê Van Schalkwyk.

“Dinge het egter vinnig in plek geval. Nie eens 'n uur nadat ek ingelig is ek moet terugkeer nie, het ek en my gesin op die repatriasievlugte van WestAir afgekom.”

Van Schalkwyk sê sy kon plek op een van die vlugte kry ná pres. Cyril ­Ramaphosa se aankondiging.

“WestAir het my reispermit na Suid-Afrika gereël en ek was verantwoordelik vir my Namibiese reispermit. Om jou permit te reël, het jy 'n brief van jou universiteit nodig wat bevestig jy moet terugkeer om jou studies voort te sit. Ek moes ook 'n gesertifi­seerde afskrif van my paspoort en bestaande studiepermit maak en aan die brief heg.”

WestAir het Van Schalkwyk verwys na me. Emce Dodds van M. Bouwer Agencies in Windhoek om reëlings vir haar reispermit te tref.

Die nodige vorms kan by binnelandse sake of by Dodds verkry word. Dodds het in minder as 48 uur Van Schalkwyk se permit gereël.

“Hierna het ek my vliegtuigkaar­tjie gekoop, wat N$4 500 gekos het. Dit klink dalk baie, maar met die ­beperkte vlugte is ek net dankbaar ek kon 'n kaartjie reël.”

Van Schalkwyk, 'n Swakopmund-inwoner, vlieg gereeld tussen ­Johannesburg en Walvisbaai, maar was geskok om die ­Internasionale Lughawe Oliver Tambo so stil te sien. “Ek het nog nooit die lughawe so stil gesien nie. Sodra jy land, word jou tasse reg langs die vliegtuig gepak. Voor jy afklim, word jou koors eers in die vliegtuig gemeet en moet jy 'n vorm invul.”

Bussies het gereed gestaan om die ongeveer 43 passasiers te vervoer, met nege passasiers per bussie. Hierna word jy met jou tasse direk na doeane geneem om jou paspoort te stempel.

“Daarna is jy terug in die bussies en word jy direk na die hotel geneem, waar jy vir minstens sewe dae in ­kwarantyn geplaas word. Op dag vyf word jy getoets en indien jy negatief toets, kan jy ná die sewende dag die perseel verlaat.”

Met hul aankoms word alle ­passasiers en hul bagasie ontsmet en ontvang 'n masker en handskoene, waarna hulle na hul kamers geneem word.

“Jy mag glad nie jou kamer in hierdie tyd verlaat nie. Jy kan jou dan privaat of deur die staat laat toets. Privaattoetse beloop ongeveer R850 en staatstoetse is gratis. As jy privaat toets, kan jy vinniger jou resultate kry,” sê sy.



Hoe werk kwarantyn?

“Ek is nog glad nie gevra om enige van my verblyfkoste te dek nie. Met jou aankoms is die ontvangspersoneel ook in al die nodige ­beskermende drag geklee,” sê Van Schalkwyk.

Vanaf 07:00 word ontbyt bedien, wat volgens Van Schalkwyk gewoonlik uit roereiers, wors en of boontjies, sampioene of tamatie bestaan. “Jy kry ook 'n sakkie met vrugte, sap, kaas, koekies en 'n muffin.”

“Vanaf 12:30 kry jy middagete en elke dag se ete was anders en heel lekker. Ek het een middag selfs gans geëet.”

Tussen middag- en aandete kry jy ook die geleentheid om by 'n trollie onder andere skyfies, lekkernye, ­sjokolade en water te koop en aandete word om 18:00 bedien.

“Elke oggend om 09:00 word jou asdrom leeggemaak. Dieselfde sakke wat jy gewoonlik in hospitale sal sien waarin mediese afval weggegooi word, word gebruik,” sê Van Schalkwyk verder.

In jou hotelkamer kry jy elke dag koffie en tee. 'n Ketel, televisie met sekere kanale, Wi-Fi en jou eie badkamer is beskikbaar. Van Schalkwyk sê die vertrek is klein, maar gemaklik.

“Op dag 5 het dit begin insink dat ek glad nie mag uitkom nie. By die huis is jy gewoond daaraan om vrylik te beweeg, maar sodra iemand vir jou sê jy mag nêrens gaan nie, wil jy juis uitkom,” sê Van Schalkwyk.

“Ek het elke dag my aanlyn klasse en leerwerk om my besig te hou. Die internet maak dit ook vir jou moontlik om heeltyd met vriende en familie in kontak te bly, so jy hou jouself besig.”

“My raad aan almal wat moet reis is om net seker te maak jy het al die nodige dokumente vir jou ­permitte. As dit in plek is, spesifiek jou registrasiebewys van die universiteit, sal jy ook tussen provinsies in SA kan beweeg,” sê Van Schalkwyk.

- [email protected]



Van die dokumente wat

jy nodig het (vir Namibiërs en houers van permanente­verblyfpermitte):

• Vorm om uit die land te reis moet ingevul word (kry dit by binnelandse sake of M. Bouwer Agencies).

• Gesertifiseerde afskrif van jou paspoort (met ­permanente ­verblyfpermit indien jy nie 'n Namibiese paspoort het nie) of identiteitsdokument.

• Rede vir reis (soveel bewyse as moontlik).

• Indien jy vlieg, moet jy jou vliegtuigkaartjie as bewys kan toon.

• Gesertifiseerde afskrif van brief wat jou toestemming gee om na die betrokke land te reis.

Kontakbesonderhede van M Bouwer Agencies in Windhoek: Emce Dodds by 081 273 5146 of [email protected].

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!