Suid-Soedan veg weer
Suid-Soedan veg weer

Suid-Soedan veg weer

Francoise Steynberg
Erika Gibson

Vyf jaar nadat Suid-Soedan Afrika se jongste onafhanklike staat geword het, gryp die inwoners van dié land wéér na mekaar se kele.
Bloedige gevegte tussen magte van pres. Salva Kiir en soldate wat sy jare lange politieke vyand en tans visepresident, Riek Machar, steun, het die afgelope week die lewe van 300 soldate en 33 burgerlikes geëis. Die Verenigde Nasies (VN) verwag dié syfer kan in die komende dae verder styg.
’n Brose skietstilstand heers tans tussen die magte van Kiir en Machar, maar buitelanders vlug uit vrees vir nog geweld.
Dít word bemoeilik aangesien die lughawe in Juba, die hoofstad, etlike dae lank gesluit was en alle vlugte gestaak is.
“Ons het ons 12 buitelandse personeellede na Nairobi geneem,” het Chris Maroleng, korporatiewe hoof van MTN, gesê.
Hulle hou die situasie fyn dop terwyl hul Suid-Soedanse werknemers die selfoonnetwerk in die land aan die gang hou.
“Dit is moeilik, want baie van die paaie is gesluit en ’n informele aand­klokreël geld. Ons het egter verseker dat al ons werknemers veilig is.”
Die meeste ambassades het die meeste van hul personeel verwyder. Die Verenigde Nasies (VN) het kort nadat die lughawe Donderdag weer oopgestel is, van sy nienoodsaaklike personeel begin wegneem.
Toe vlugte uit Juba hervat is, het buitelanders wat die land wil verlaat, voorkeur bo Suid-Soedannese gekry.
Amerika het meer as 40 soldate Juba toe gebring om die ambassade en ander diplomatieke geboue te beskerm. Uganda, wat tradisioneel een van Kiir se bondgenote is, het met ’n militêre konvooi die grens oorgesteek om ’n veilige ontsnaproete vir sy burgers te verseker.
Sowat 2 000 soldate vergesel die konvooi en sal vermoedelik in die land agterbly om die vrede te help handhaaf.
Die jongste onrus het opgevlam toe Machar en sy beskermingsmag ’n week gelede by die presidentspaleis opgedaag en stelling rondom dit ingeneem het.
Een van Machar se offisiere het in ’n rusie met Kiir se soldate betrokke geraak en is summier doodgeskiet.
Opponerende soldate het wild op mekaar begin skiet.
’n Skietstilstand is onderhandel waarin Kiir die versekering gegee het dat Machar na veiligheid geneem sal word. Machar het in ’n onderhoud met BBC Focus gesê die konfrontasie het waarskynlik ’n aanslag op sy lewe afgeweer.
Twee dae later het Machar se soldate weer magte van Kiir by ’n militêre beheerpunt in Juba oorval.
Regeringsoldate het wéér teruggeslaan en dié gevegte het twee dae lank in die strate van Juba voortgeduur. ’n Dokter is in die kruisvuur doodgeskiet.
Ingevolge die skietstilstand moes Machar sy soldate uit die hoofstad onttrek.
Hulle is nou buite Juba met reg­eringsoldate wat hulle “bewaak”.
Machar dring daarop aan dat ’n buitelandse ingrypingsmag eers in die land ontplooi word voordat hy weer vir vredesamesprekings na Juba sal terugkeer.
Die geweld in Juba kom ná verskeie soortgelyke skermutselings op die platteland wat daartoe gelei het dat duisende mense vir hul ­lewes moes vlug.
Irin, die VN se nuusdiens, het berig dat noodlenigingswerkers en kosver­skaffingsprogramme nie hul werk kan voortsit nie.
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!