Suide se skaapboere kondig slagboikot aan
Skaapboere gaan volgende week hul stem dik maak oor lae pryse en op massaskaal hul lammers uit die mark hou.
Ronelle Rademeyer
Die krisis in die kleinveebedryf het weens die prysverskil op lamkarkasse hier en in Suid-Afrika só versleg dat skaapboere van Maandag af die uitvoerabattoirs gaan boikot. Dié verskil beloop tans tot N$18 per kilogram.
Benewens die massa-aksie deur boere gaan 'n verslag deur die kantoor van die ombudsman oor die finansiële dilemma van skaapboere en 'n beleidsvoorstel deur die Vleisraad oor hoe om die krisis op te los, ook aan die minister van landbou, water en bosbou, mnr. Alpheus !Naruseb, voorgelê word.
Skaapboere is ná die sluiting van Farmers Meatmarket se uitvoerabattoir op Mariental verlede jaar, grootliks van Brukarros Meat Processors (BMP) by Keetmanshoop afhanklik.
Die Suid-Afrikaanse agrimaatskappy GWK, met sy hoofkantoor op Douglas in die Noord-Kaap, doen sedert verlede jaar kontrakverslagting by Brukarros. Dié abattoir betaal boere vandeesweek N$63 per kilogram terwyl abattoirs in die Noord-Kaap, Karoo en Wes-Kaap tot soveel as R81,50 per kilogram betaal.
krisis
Die prysverskil tussen plaaslike en Suid-Afrikaanse abattoirs was sowat ses weke gelede toe !Naruseb tydens 'n besoek aan die Vleisraad oor die krisis in die skaapbedryf ingelig is, N$8 per kilogram. Dit het sedertdien tot sowat N$18 per kilogram opgeskiet.
Die krisis is veroorsaak deur die omstrede kleinveebemarkingskema wat boere dwing om 50% van hul lammers plaaslik te laat slag – 'n situasie wat die vryemarkbeginsel onderdruk en pryse toenemend laat daal het.
Die skema het sedert die inwerkingtreding daarvan op 1 Julie 2004 'n verlammende uitwerking op die groei en vooruitgang van die plattelandse gemeenskappe in die Suide gehad, sê mnr. Ernst Blaauw, voorsitter van die Keetmanshoop Streekslandbou-unie (SLU).
“Die produsente kán nie meer nie. Die finansiële implikasie van die skema raak net te enorm. Mense sit op die klein dorpies en het nie werk nie, want ons kan nie bekostig om hulle in diens te neem nie,” sê hy.
Mnr. Pieter van Schalkwyk, 'n bekende skaapboer van Aroab, sê die reuseprysverskil beteken 'n boer kry meer as 'n halfmiljoen Namibiese dollar mínder as hy 1 500 lammers plaaslik laat slag teenoor wat hy sou verdien het as daardie lammers in Suid-Afrika geslag is.
Die Vleisraad het tydens 'n spesiale raadsitting verlede Woensdag in Windhoek 'n beleidsvoorstel geformuleer wat namens die bedryf aan !Naruseb voorgelê gaan word, sê die hoofbestuurder, mnr. Paul Strydom.
Nóg hy nóg die ombudsman, adv. John Walters, wou egter die aap uit die mou laat oor die aanbevelings wat in die Vleisraad se beleidsvoorstel en in die verslag deur die kantoor van die ombudsman aan die regering gemaak word.
Volgens Walters het sy kantoor die situasie in die skaapbedryf ondersoek nadat die Namibië Landbou-unie (NLU) 'n klag oor die prysverskille ingedien het.
Mnr. JC de Klerk, verteenwoordiger van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) in die Suide, sê boere se frustrasie oor die kwessie is besig om oor te kook. “Boere kan nie wag tot die ministerie eendag 'n besluit neem nie. Daarom gaan ons saam staan en die uitvoerabattoirs boikot deur ons lammers terug te hou.” Volgens mnr. Piet Gouws, voorsitter van die LPO, volg binnelandse abattoirs die pryspatroon van die uitvoerabattoirs en die situasie het onhoudbaar geword.
GWK OOR SLAGPRYS
Mnr. Alex Cilliers, hoof van vleis by GWK, sê die pryskwessie is kompleks en moet in konteks gesien word.
Hy sê die abattoirs op plekke soos Calvinia, Carnarvon en Williston in die Karoo asook dié in die Wes-Kaap betaal nou hoër pryse omdat die voorsiening in daardie dele tans baie laag is.
Hierdie boere se kuddes is weens die droogte verklein en in die Wes-Kaap kon boere boonop verlede week weens die baie reën nie lammers aan die mark lewer nie.
“Ons aanbod van slagdiere in die Noord-Kaap is goed. Terselfdertyd is die dinamika tussen ons opset en daardie abattoirs wat net vir eie gebruik in hul omgewings slag, baie verskillend. Ons bemark kommersieel op 'n groot skaal en lewer 10 000 en meer lammers per week aan die mark.” Hy sê dit is belangrik “om appels met appels te vergelyk”.
Verder, sê Cilliers, bepaal GWK op Vrydae 'n prys vir die volgende week en waarborg daardie prys, selfs al daal pryse in die mark.
'n Ander aspek wat produsente volgens hom in ag moet neem, is dat dit duur is om die lamkarkasse uit Namibië in die Suid-Afrikaanse mark te kry.
“Die werwing- en bemarkingskoste is baie hoër,” sê hy.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie