• Tuisblad
  • Sake
  • Sun City 'bly gewild', selfs al daal inkomste
Sun City 'bly gewild', selfs al daal inkomste
Sun City 'bly gewild', selfs al daal inkomste

Sun City 'bly gewild', selfs al daal inkomste

Ondanks twee jaar se beloftes deur opeenvolgende ministers kla mense in die toerismebedryf dat gesinne stééds toegang tot Suid-Afrika geweier word.
Hanlie Stadler



Die son skyn steeds vir Sun City, al het dié naweekbestemming die afgelope jaar vir sommige mense in die noorde van die buurland sy glans verloor.

Anthony Leeming, uitvoerende hoof van Sun International, sê Sun City “is so gewild soos altyd”, al het dit volgens die groep se jaarsyfers ­“onderpresteer”.

“Ons is steeds naweke vol. Die middel van die week is soms 'n ­probleem, maar ons is optimisties as visumregulasies verslap word, hoop ons dat internasionale besoekers sal toeneem, wat besettingskoerse sal verbeter.”

Dis 'n verwysing na die lank beloofde verslapping van die regulasie dat ouers wat die land met hul kinders wil inkom, volledige geboortesertifikate moet hê, asook oor die verslapping van die rompslomp vir reisigers van onder meer China en Indië. Ondanks twee jaar se beloftes deur opeenvolgende ministers van binnelandse sake en van finansies kla mense in die toerismebedryf dat gesinne stééds by grensposte en op lughawens toegang tot die land geweier word.

Die hotel-en-dobbelgroep is ook optimisties dat besprekings vir konferensies by Sun City en elders vanjaar sal verbeter. Verlede jaar het ­maatskappye nog hul rieme dun gesny.

Sun International se syfers wys Sun City, met 'n inkomste van byna R1,7 miljard in die jaar tot einde ­Desember, is ná GrandWest (R2,2 miljard) in Kaapstad die groep se grootste ­kontantkoei.

Sun City se inkomste het egter met 3% gedaal teenoor 2017 – self 'n moeilike jaar in die ­­­hotelbedryf – terwyl die inkomste by GrandWest met 3% gestyg het. Die groep se totale ­vergelykbare inkomste het met 7% tot R16,4 miljard gestyg.

Sun City het probleme beleef soos 'n haelstorm op 15 Desember wat van sy verblyfeenhede ­onbewoonbaar gemaak het en skade van R25 miljoen aangerig het. Die opening van 'n derde plek in Rustenburg wat elektroniese bingo aanbied in Oktober 2017 het baie dobbelaars weggehou. ­Elektroniese bingo is nou al jare lank vir die casinobedryf 'n groot bron van kommer omdat dit nie in dieselfde mate gereguleer word as casino's nie.

Leeming is baie ingenome met die prestasie van die nou voltooide Time Square in Menlyn Maine, Pretoria. Die ontwikkeling se inkomste vir die jaar was R1,25 miljard en dit het 'n markaandeel van 13,5%, wat aanhou styg.

Herstrukturering by Carnival City aan die Oos-Rand is onderweg, terwyl Sun International die Boardwalk in Port Elizabeth wil herontwikkel.



Nuwe belasting

Leeming meen dis ­kommerwekkend dat die regering in Februarie se ­begrotingsoorsig verwys na 'n ­dobbelbelasting op 1% van casino's se inkomste wat vir 2020 beoog word.

Dis 'n belasting wat ook 'n paar jaar gelede genoem is.

Leeming sê hulle sal ­kommentaar lewer op die voorstel wanneer ­konsepwetgewing uitgereik word, en hulle sal veral wys op die feit dat ­casino's werk verskaf aan duisende mense, regstreeks, maar ook deur die gasvryheids- en vermaakbedryf. Die sektor lewer 'n groot bydrae tot ekonomiese groei en betaal reeds 'n stewige hoeveelheid belasting.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!