Swapo-skool geopen

Augetto Graig
Augetto Graig - President Hage Geingob het gister (23 Mei) die Swapo Party-skool in Windhoek-Wes amptelik geopen. Mnr. Helmut Angula, die Swapo-party se sekretaris vir inligting en mobilisering, wat die bou van die skool beheer het, was seremoniemeester.
Swapo se sekretaris-generaal, mnr. Nangolo Mbumba, het die geleentheid as ’n groot prestasie vir Angula beskryf. Mbumba het ook gesê die kursus wat die skool sal aanbied, sal binnekort die voorvereiste wees vir leierskaploopbane binne die Swapo-party, die regering en in ander bedrywe binne die party. Mnr. Marco Hausiku is as die eerste rektor van die skool aangestel.
Die leierskap van die regerende party was goed verteenwoordig by die geleentheid. Hoë amptenare van Bo-tswana, Kuba, Zimbabwe, Rusland en China was teenwoordig. Die huidige president van die Swapo-party het in sy toespraak die vader van die nasie, mnr Sam Nujoma, se deugde beklemtoon. Nujoma is as beskermheer van die skool aangewys.
Dit is nodig dat die skool verseker dat toekomstige lede toegerus word met die kennis, kultuur en etos van Swapo, het Geingob gesê. Hy het Fidel Castro aangehaal: “Die kwaliteit van lewe lê in kennis, in kultuur en in waardes wat die ware kwaliteit van die lewe behels, selfs meer as kleure, kos of blyplek.” Volgens hom kan die belangrikheid van die partyskool nie verminder word nie. “Hier sal ons lede opleiding kry wat die eienskappe van verantwoordelike leierskap by hulle sal kweek,” volgens Geingob. “Swapo het nog altyd in opvoeding geglo,” het Geingob gesê en dat “Nujoma in sy hart ’n opvoedkundige is”.
“Opvoeding is die beweging van die donkerte na die lig, van apartheid na onafhanklikheid, en nou van armoede na ekonomiese voorspoed,” volgens die staatspresident. By die skool sal senior partylede aan nuwe lede onderrig verskaf, en hulle sal weer jonger lede onderrig gee om die party se beginsels te beskerm en te verseker die institusionele geheue en die Swapo-kultuur duur voort. “Die Swapo-party het geskiedenis, dit het ’n oorsprong en kultuur. Ons party het diep wortels en ons gaan nêrens nie. Ons is hier om te bly en so lank as wat ons aanhou hard werk, sal ons bly wen. Swapo sal vir ’n lang tyd nog in beheer bly,” sê hy.
Op sy beurt het Nujoma gesê die idee vir die skool strek oor 14 jaar na dit eers by die 2002 Swapo-partykongres genoem is. Hy het Kuba geprys vir sy hulp en die kenners wat hulle gestuur het om die skool op die been te bring. Volgens Nujoma sluit die skool se leerplan Namibiese geskiedenis, Swapo-geskiedenis, Namibië se ekonomie, regstelsel en Swapo-filosofie so wel as werwing en organisatoriese vernuwing in.
“Ek is gelukkig dat die partyskool kaders van ’n hoë kaliber sal produseer. Hul politieke opvoeding sal vir Swapo die leierskap verskaf om langtermynoorlewing te verseker. Party lede sal hier opvoeding kry om party-oorwinnings in toekomende jare te verseker,” het hy gesê.
Hausiku het die leierskap vir tyd gevra om eers sy personeel aan te stel en die inhoud van die leerplan volledig na te gaan. “In die volgende dae en weke sal ons die grondslag lê. Ons verwagting, as leiers van die instelling, is nie net om kennis oor te dra nie, maar om seker te maak die kennis deel van ons mense se lewensbestaan word,” het hy gesê.
Die skoolgrond, waar MISA jare lank sy streekkantoor gehuisves het, behoort aan Swapo-lid David Namwandi.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!