Swart groep verkry 'n belang in Distell
Swart groep verkry 'n belang in Distell

Swart groep verkry 'n belang in Distell

Estelle de Bruyn
Nellie Brand-Jonker



Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) gaan 'n gedeelte van die 26% wat hy namens die staat se pensioenfonds in die drankmaatskappy Distell koop, aan 'n swart groep verkoop.

Dié aankondiging Woensdag is as nuus vir die ander aandeelhouers van Distell beskryf.

Distell besit gesogte handelsname soos Nederburg, Durbanville Hills, Two Oceans en Klipdrift.

Die wynbedryf was eens gesog onder swart beleggers. Die bekendste transaksie in die bedryf was meer as 'n dekade gelede toe die voormalige drankmaatskappy KWV van die Paarl 'n belang verkoop het.

Daarna het Distell gevolg toe die bemagtigingsgroep Wiphold 'n belang in sy bedryfsmaatskappy bekom het. Dié transaksie het in 2014 tot 'n einde geloop en Wiphold hou nou 1,59% in Distell.

Die Mededingingstribunaal het verlede week gesê die OBK-transaksie is, onderhewig aan sekere voorwaardes, goedgekeur.

Die OBK is die batebestuurder wat onder meer die geld van die regering se pensioenfonds (GEPF), die Werkloosheidsversekeringsfonds en die Vergoedingsfonds bestuur. Die belang van 26% sal met die pensioenfonds se geld gekoop word.

Die belang het beskikbaar geraak nadat die internasionale drankreus Anheuser-Busch InBev verlede jaar vir SABMiller verkry het. Een van die voorwaardes was dat SABMiller se belang in Distell verkoop moet word.

“Die voorwaardes het vereis dat AB InBev aan die aanbiedinge van swart- ekonomiese bemagtigings- (SEB) groepe voorkeur moet gee. Omdat daar geen SEB-groepe was wat 'n aanbod gemaak het nie, het die GEPF die belang gekoop en 'n deel daarvan gaan nou aan 'n SEB-maat­skappy verkoop word,” lui 'n verklaring van die tribunaal Woensdag.

Die belang van SABMiller in Distell spruit uit die 1970's.

Twee ander groot aandeelhouers in Distell – die beleggingsmaatskappy Remgro, en Capevin (voorheen KWV Beleggings) hou 'n voorkoopreg op die belang, maar het in Desember ingestem dat die OBK die belang kan koop.

Chris Otto, voorsitter van Capevin, sê dit is vir hulle ook nuus dat 'n gedeelte van die belang nou aan 'n SEB-maatskappy verkoop gaan word.

'n Belang van 5% sal waarskynlik aan 'n SEB-vennoot verkoop word, wat 20% onder die OBK se bestuur sal laat.

Hy sê omdat hulle 'n voorkoopreg op die aandele het, sal dit eers aan Capevin en Remgro aangebied moet word.

Remgro het in Oktober R9,9 miljard in 'n regte-uitgifte ingesamel om die belang te koop.

Remgro het onlangs gesê hy sou baie graag die belang in Distell wou koop, maar dit was uiteindelik te duur.

Otto wou nie iets oor die prys sê waarteen die belang deur die OBK gekoop is nie. Hy sê egter dit was ook nie vir hulle 'n aantreklike prys waar­teen dit te koop aangebied is nie.

Chris Logan, 'n fondsbestuurder van Opportune Investments, sê Distell het nuwe groei nodig en wie ook al sy nuwe vennoot is, moet saamwerk om dit te laat gebeur.

“Distell is onder druk, want hy ding mee met al die groot multinasionale maatskappye soos Heineken.”

Distell se aandeelprys is nou op sy laagste vlak die afgelope jaar op R139,50. Die aandeelprys was laas aan die einde van 2014 op dié vlak. Sy aandeelprys het in November 2015 'n hoogtepunt van R180 bereik.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!