Switserse burger skuldig aan N$1m se bedrog
Switserse burger skuldig aan N$1m se bedrog

Switserse burger skuldig aan N$1m se bedrog

‘n Bejaarde eiendomsontwikkelaar is gister op tien klagte van bedrog en een van diefstal skuldig bevind.
Denver Kisting
Denver Kisting – ‘n Switserse burger en eiendomsontwikkelaar, die 72-jarige Hans Peter Rothen, moet homself vyf keer per dag inspuit weens diabetes, ly aan hoë bloeddruk en het in Desember ‘n bloeiende maagseer gehad waarvoor hy bloedoortappings moes ontvang.

Dié omstandighede het sy regsverteenwoordiger, advokaat Louis Botes, laat gistermiddag genoop om by die hoërhof in Windhoek te pleit om Rothen opnuut op borgtog vry te laat totdat hy gevonnis word.

Botes het gesê hy het geen twyfel nie dat Rothen nie op die vlug sal slaan nie, maar wel sy verhoor tot aan die einde gaan bywoon wanneer hy weer vrygelaat word.

Regter Naomi Shivute het die man gister op tien aanklagte van bedrog en een van diefstal ten bedrae van meer as N$1 miljoen skuldig bevind. Dit was ‘n marathonuitspraak wat gister om 10:00 begin en eers ná 15:00 ten einde geloop het.

Met Rothen se skuldigbevinding gister is sy oorspronklike borgtog van N$25 000 outomaties gekanselleer en sou hy weer agter tralies moes beland.

Nuwe borgtogvoorwaardes

Regter Shivute het gesê hoewel sy die versoek om borgtog van die verdediging toestaan, verhoog sy die nuwe bedrag tot N$50 000.

Daarnaas moes hy sy paspoort indien by die kantoor van die registrateur van die hoërhof. Rothen het permanente verblyfreg in Namibië en woon op Swakopmund..

Rothen moet voorts twee keer per week by die ondersoekbeampte by die Walvisbaai-polisiekantoor aanmeld – Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 10:00.

Die regter het ook gelas Rothen moet weer op Maandag 28 Maart in die hoërhof wees vir die betoë voor vonnisoplegging.

Die enigste klag waarop Rothen nie skuldig bevind is nie, is ‘n klag wat met die oortreding van die wet op beslote korporasies verband hou. Volgens regter Shivute het dieselfde feite vir daardie klag gegeld as vir die ander 11. Hoewel die staat in sulke gevalle geoorloof is om soveel klagte soos wat dit goed ag teen ‘n beskuldigde te bring, berus die besluit by die hof om ‘n beskuldigde op alle klagte skuldig te bevind, al dan nie.

Me. Ingrid Husselmann, ‘n adjunk-aanklaer-generaal wat namens die staat aangekla het, het nie die nuwe borgtog teengestaan nie.

Omdat die hof kort voor 16:00 gister verdaag het, was aanduidinge dat Rothen waarskynlik gisteraand in aanhouding sou moes deurbring omdat die aanvullende borgtog in kontant vereffen sou moes word.

Agtergrond

Rothen se skuldigbevinding volg nadat ‘n sakeverhouding tussen hom en mnr. Bernd Muller sowat 14 jaar gelede skeefgeloop het.

Die mans was lede van ‘n beslote korporasie waarin elkeen ‘n 50%-belang gehad het en wat ten doel gehad het om eiendom op Swakopmund te ontwikkel.

Daar is suksesvol aangevoer Rothen het tussen Januarie 2003 en Maart die daaropvolgende jaar verskeie tjeks wat met die terugbetaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) van die ministerie van finansies verband hou, onregmatig in die rekening van ‘n ander beslote korporasie betaal. Hy was die enigste lid van dié besigheid. Die bedrag het N$1,093 miljoen beloop. Die geld was vir die gesamentlike besigheid bestem.

Wat die diefstalklag betref, het die hof bevind Rothen het N$150 000 van sy en Muller se besigheid gesteel en beweer dit is salarisbetalings wat Rothen en sy vrou toegekom het.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!