Tatoe's
Corina Becker - Die tyd vir hierdie troue is baie vreemd – agtuur die Saterdagaand in die hartjie van die ysigste sneeuwinter.
Natuurlik sal ek moet saamgaan, want my dogter moet die orrelbegeleiding doen, die Anglikaanse kerk orrelis het haar gevra om in haar plek vir die troue te speel. Sy wil darem nie alleen gaan nie. Daar trek ons twee toe na die amper middernagtelike troue toe. Deur die dikke sneeu en temperatuur ‘n hele klomp grade onder nul.
Toe ons by die kerk instap, stuit ons in ons spore. So iets het ons nog nooit gesien nie. Ons staan nog so vasgenael, toe kom die priester – ‘n petite vroutjie – op ons afgestorm. Sy is half uitasem. Met die groetslag maak sy verskoning vir die "wild bunch" en verduidelik dat hierdie nie ‘n gewone troue gaan wees nie. Dié kan ons sien, ja. Sy verduidelik dringend vir my dogter hoe, wat en wanneer gespeel moet word. Alles eers sodra sy die teken gegee het asseblief, want met dié klompie weet mens nie, sê sy en draf weg.
Dit kuier ‘n hond uit ‘n bos uit – letterlik. Ja, die groot, geel, platgesig hond is ook daar aan sy leiband. Dan het dié een hom, dan daai een. Verskrik en uit sy element jaag die arme ding se asem oor sy uithangende tong. Sy ore weet nie waarheen om oral te roer nie.
Die gaste is baldadig. Bendebroederlike oor-en-weer klappe op rûe en skouers, manlike omhelsings van fris tjomme met krabbers oral aan en in die gesig. Tuxedo-moue is hoog opgerol en dis tatoe’s net waar jy kyk. Die meisies en vroue vertoon hulle s’n op kaal ruggies en skouers. Kry hierdie vroutjies dan nie koud nie?
Voor in die kerk langs die altaar staan die orrel en ek gaan sit maar daar by my kind in die leë koorbanke en kyk oor die vreemde vrolike mense.
Ek voel vreeslik ontuis tussen hierdie skare in swart wat net luider jil toe die musiek begin. Die hond neem jou waarlikwaar notisie. Remmend aan die leiband van die seuntjie wat hom dié slag hou, kom hy digby sit en luister frommelgesig, spits-oor na die klanke uit die pype bokant die orrel. Die seuntjie moet maar staan by die hond. Ek voel vir die hond, want ek is ook geheel-en-al uit my gemaksone uit. Ek weet nie wat om te dink, waar om te kyk nie. Dan val my oog op die baniere in die kerk op die oorkantste muur: "From the darkness into His glorious Light."
Net toe breek nog luider applous los.
‘n Bendetjie jongmans saam met ‘n jongmeisie kom die kerk ingestap en kry hulle staan voor by die altaar. Almal is in pikswart geklee. Sy ‘n bos spierwit rose. Ek sien die groot arend tatoe op haar rug toe sy omdraai om na die skare te kyk. Een van die twee manne se hare is styf teen sy kop in lang, dun toutjies gevleg. Kort-kort kom gee iemand hom ‘n paar klappe op die rug, lag luid en omhels hom dan gemoedelik. Dit skater en kwinkslag oor-en-weer. Hy reageer soms effe verleë, maar staan sy man teen die oorvriendelike aanslag. Die kerk dreun onder die vrolikheid. Hy en die mannetjie in swart by hom, laat my nogal dink aan twee kapokhaantjies wat op die werf hulle koningkraai probeer behou tussen al die wafferse werfhane.
Toe sien ek sy tatoe’s. ‘n Paar bloedrooi lippe in innige soene gefrommel aan beide kante van sy nek. Op sy voorarm: "Tha GOLDEN CHILD." Siestog, seker ‘n bendekind . . . dink ek. Ek kyk op – my gemoed swaar en heeltemal deurmekaar. Dan val my oog op nog ‘n banier agter op die kerk se muur: "You are My beloved child."
Die troumars begin speel. "Tha GOLDEN CHILD" storm die pragtige blonde bruidjie wat alleen afgestap kom in die paadjie. Sy dra ‘n reusagtige wit ruiker rose. Die donkerpers trourok laat haar nog broser lyk. Hy gryp haar en sluk haar byna in. Dis toe eers dat ek besef dat hy die bruidegom is en die twee by hom is die strooijonker en die strooimeisie. My mond val verder oop.
Al die swart het my heeltemal deurmekaar. Die skare skree en juig. Toe soek die bruidegom die geel hond. Hy roep na hom en die seuntjie bring die hond. Sy kort stertjie wriemelend bly kom sit hy gretig tussen die bruidegom met die toutjieshare en sy pragtige bruid. Die seremonie kan begin.
Die dapper priester het al haar dae om die tweetjies se aandag te behou. Sy probeer haar preek en die huweliksformulier inkry, maar deurentyd word die hond liefdevol gevryf en die bruid inniglik gesoen. Waarop die gehoor kommentaar lewer en die bruidegom en die strooijonker met kwinkslae reageer. Praat van ‘n "wild bunch!"
Uiteindelik het die priester tog die band om hulle hande en die ringe aan hulle vingers en spreek sy die seën uit oor hierdie uit-‘n-ander-wêreld paartjie. Die knoop is deur. Die bruid pink selfs ‘n traan.
Die priester gee die teken vir die uitstapmusiek en die vrolike swart prosessie met die geel hond stertjie-swaaiend vooraan, stap onder luide gejuig uit by die kerk die donker koue nag in. My oog val vir oulaas op die tatoe op sy swaaiende voorarm: "Tha GOLDEN CHILD" in die groot lopendeskrif sierletters - ek lig my oë boontoe. "You are My BELOVED CHILD", sê die banier. Die asvaal, half-oes priester storm op mý af en vee die sweet van haar voorkop af:
“This has been the most difficult ceremony I ever had to conduct!”
“I understand – this is . . . was – very, very uhhh . . . disturbing,” ek kry skaars my oop mond toegemaak.
Toe vertel sy ons.
Hierdie twee kinders ken net die ellende-kant van die lewe, het op straat grootgeword en het geen kerk se binnekant ooit gesien nie. Die seun weet nie eers wie sy ouers is nie, die meisie het weggeloop van die huis af nog voordat sy ‘n tiener was. Hulle het van pleegouer tot pleegouer geswerf en eintlik maar op die strate grootgeword. Die bendes is hulle ‘familie’. Die tweetjies daag uit die bloute op ‘n dag daar by haar in die kerkkantoor op met die versoek om in die kerk te mag trou. Hulle wil graag deel word van die kerk ja, hulle wil die bendelewe vaarwel toeroep, sê hulle. Sy doen alreeds gereeld met hulle Bybelstudie. Die meisietjie is nou-die-dag gedoop terwyl die trane oor haar wange stroom.
Met die opkyk vang my oog weer die baniere: "From the darkness into His glorius Light" en "You are my Beloved Child". Ek dink aan "Tha GOLDEN CHILD" en ek weet ek sal nooit weer met dieselfde oog na ‘n tatoe kan kyk nie.
KASSIE
Uittreksel uit Corina Becker se bundel Die kanniedood sal altyd bloei waarvoor sy 'n Pluimpie by die 2015 ATKV-toekennings ontvang het.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie