Tennisster gee kinders hupstoot

N$90 miljoen deur welsyn- en kerkorganisasie versprei.
Augetto Graig
Augetto Graig



Min inligting is beskikbaar oor hoeveel kinders van vyf en ses jaar oud in Namibië en wêreldwyd skoolgereed is.

Namibië het in hierdie opsig al goed gevorder en kon teen 2015 sowat 98,6% van die land se kleuters in 'n skool huisves.

Tog bestaan die behoefte om vroeë kinderonderrig in Namibië te bevorder om te verseker beter uitslae word aan die einde van elke kind se skoolloopbaan gelewer.

Om hierdie rede het die Roger Federer-stigting (RFF) uit Switserland 'n ooreenkoms met die Nasionale Beplanningskommissie (NPC) gesluit waarvolgens die stigting oor die volgende sewe jaar sowat N$90 miljoen aan die kommissie sal skenk.

Me. Janine Händel, uitvoerende hoof van die stigting, sê: “Dit gaan oor daardie arm en onbevoorregte Namibiese kinders, wat die toekoms van Namibië is.

“Om daardie toekoms 'n werklikheid te maak, moet alle Namibiese kinders se opvoeding goed begin. Dít is waar ons 'n rol speel.”

Die tennisster Roger Federer het dié stigting 15 jaar gelede op die been gebring.

Sy ma is Suid-Afrikaans, en volgens Händel het sy Namibiese familiebande.



Ontferm

Die stigting ontferm hom oor Suider-Afrika weens Federer se besorgdheid oor die vasteland.

Händel sê Federer het as kind dikwels vakansies in Suid-Afrika deurgebring.

Nou finansier sy stigting projekte in Switserland, Namibië en vyf ander lande in Suidelike Afrika.

Die stigting is al sedert 2015 in Namibië werksaam met 'n projek wat in Julie vanjaar ten einde geloop het.

Die projek is getiteld: “Dit neem 'n gemeenskap om 'n kind groot te maak: Stelselmatige ondersteuning aan vroeë kindersorg en ontwikkeling in Namibië.”

Dié projek het 97 vroeë kinderontwikkelingsentrums in die Khomas- en Hardapstreek ondersteun deur middel van die opleiding van werknemers en vrywilligers, die verbetering van standaarde, ouerbetrokkenheid en gemeenskapsbewustheid.

Dit was volgens Händel ook 'n waardevolle geleentheid om meer oor die land se omstandighede te leer.

Soos met die vorige projek sal die geld vir die nuwe projek deur middel van die nieregeringsorganisasie Life­Line/ChildLine en die Kerklike Alliansie vir Weeskinders (Cafo), in samewerking met die ministeries van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, en dié van onderwys, kuns en kultuur versprei word.

Die loodsprogram, wat tot Desember 2019 sal voortduur, sal aanvanklik tot die Khomas- en Oshanastreek beperk wees. Daarna sal dit landswyd geïmplementeer word.

Me. Nicolette Bessinger, LifeLine/ChildLine se direkteur, sê hulle kon reeds meer as 150 vroeë kinderontwikkelingsentrums danksy Federer se stigting ondersteun.

Sy voeg by dié stelsel behels duidelike riglyne en bevoegde finansiële bestuur.

Volgens me. Laura Cronje van Cafo is gereelde terugvoering aan skenkers en direkte verbinding tussen sentrums ook voordelig.

“Sedert die RFF se ondersteuning toon elke sentrum waarmee ons werk meetbare vordering. Ons gaan na dié wat dit nodig het,” sê sy.

By die geleentheid waar die nuwe projek van stapel gestuur is, het mnr. Pieter van der Walt, adjunkminister van nasionale beplanning, gesê Namibië waardeer die ondersteuning “wat die lewe van die plattelandse armes raak en tot die volhoubare ontwikkeling van ons land bydra”.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!