Tham Loeang-redding gee wêreld weer hoop
Die aangrypende lot van die Wild Boar-sokkerspan se 17 angsvolle dae in die oorstroomde Tham Loeang-grotte in Thailand het die wêreld emosioneel saamgesnoer.
Sokkergeesdriftiges se Wêreldbekerpraatjies is selfs op die agtergrond geskuif terwyl hulle vasgenael die reddingsoperasie gevolg het.
Daar is beswaarlik sedert 23 Junie gesprekke gevoer waarin die Thailand-gebeure nie opgeduik het nie.
Het jy gesien nóg 'n seun is gered? Darem tragies van die duiker wat verdrink het. . .
Só is daar die wêreld oor meegeleef en saamgesels.
Toe die laaste van die twaalf seuns Dinsdag deur die dapper duikers na veiligheid gebring is, was dit nie net die ouers wat van verligting gehuil het nie. Baie ander ma's en pa's wat hulle met dié angs kon vereenselwig, het trane van vreugde gestort.
Ek was aangegryp deur die onbaatsugtige hulp van duikers soos die Suid-Afrikaner Leandro Gerardo (32), wat hulle as vrywilligers by die reddingsoperasie aangesluit het.
Hy is in Durban opgelei en werk nou as duiker vir 'n Thaise maatskappy.
Iewers het ek gelees hy het vir sy familie in Suid-Afrika laat weet die sigbaarheid in die grot was só swak dat hulle “blind" tussen die skerp rotse rondom hulle moes duik.
Op een plek was die opening waar die duikers moes deurgaan maar 40 cm breed.
En kan jy dink hoe die laaste reddingswerkers moes skarrel om uit die grot te kom toe die waterpompe Dinsdag die gees gegee en die watervlak in die grotstelsel vinnig begin styg het?
Dit is naelbyt, sit-op-die-punt-van-jou-stoel spanning wat fliekmakers maar alte graag met 'n Hollywood-geur sal wil opdis.
Dit was egter die assistent-afrigter van die Wild Boars, die 25-jarige Ekkapol Tsjantawong, se volwassenheid en geestelike krag wat my die diepste getref het.
Ek het uit die staanspoor besef die span se oorlewing gaan grootliks van hom afhang. Hy was die een wat in die nat, donker grot die jong seuns moes bemoedig en laat glo hulle sál die trauma oorleef.
Sy een tante, Tham Chantawong, het aan Associated Press (AP) vertel hy het jare in 'n Boeddhistiese monnikeklooster deurgebring. Beide sy ouers is dood en hy woon saam met sy verswakte ouma.
Sy glo dit is sy opleiding in die klooster en die dissipline om tot 'n uur lank te mediteer, wat die deurslag gegee het.
Die wêreld het meer Ekkapols nodig; mense wat geestelik sterk en gefokus is. En toegewyd is aan die saak wat hulle dien – wat, in sy geval, die Wild Boars is.
Ons het ook meer figuurlike grotduikers soos hierdie span nodig, wat hul lewens waag om hoop en redding te bring en van die wêreld 'n beter plek te maak.
Ons is sat vir egoïstiese staatshoofde en politieke leiers wat kortsigtig en in eie belang optree. Ons is moeg vir narsiste wat hul eie saak dien.
Die wêreld het weer helde nodig.
En stories met gelukkige eindes soos dié van Tham Loeang.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie