Tocchini, die ontsnapkunstenaar
Sedert Spruit kon praat, vertel sy my sy wil haar hele lewe lank al 'n hondjie hê.
Nee, sê ek vir Spruit, jy's nog te klein om 'n hond ordentlik te behandel, en ons bly in elk geval in 'n flat. Honde het spasie nodig.
Skaars 'n maand ná ons die eerste keer in 'n plek met gras intrek, het ons 'n hond. Spruit is in haar element. En toe kry ons nog 'n hond. En nóg een. Mamma het mos 'n rubberarm.
En toe trek ons Namibië toe, met die héle gesinnetjie: ek, Spruit en ons drie honde.
Hondjie nommer drie se naam is Chocolate, oftewel Tokkie, en deesdae Tocchini, vernoem na Houdini, want mej. Jack Russell is 'n wafferse ontsnapkunstenaar. Ons bly nou skaars twee maande in ons tweede plekkie in Windhoek, en Tokkie het reeds vyf keer ontsnap.
Die eerste keer wat sy ontsnap, ná ons 'n dubbellaag net op die voorhek gesit het, kry sy koers hoofstraat se kant toe, waar die huiseienaar, wat genadiglik baie lief vir diere is, haar kry. Tokkie is gered, dankie tog.
Die huiseienaars, bless their souls, sit vir ons draad op die voorhek. Maar dis sagte draad en Tokkie vind haar weg hierdeur ook en draf in die straat af. Gelukkig is daar iets soos WhatsApp-groepies, en ná ons 'n foto van Tokkie op die straat se groepie deel, sê nommer 123 se vrou Tokkie is daar by hulle. Haar man het sy kar uitgetrek, uitgeklim om die hek toe te maak, en woeps, daar spring Tokkie in tot op die passasiersitplek. Kom ons ry. Vat my na my mense toe. Sy't selfs 'n kaart vir hom geteken. Weer het ons vir Tokkie terug. Niemand het haar doodgery of gebraai nie.
Die huiseienaars, bless their souls alweer, sit dié keer sterker draad op, maar nie hoog genoeg nie. Ons gaan Grove toe, maar ek doen my shopping soos iemand wat goed vir die eindtye bymekaarmaak – moer net goed in die trollie in, want ek wil by die huis kom. Ek worry oor Tokkie. En wragtie, ons het skaars om die draai gekom of Tokkie trippel in die straat af die kar tegemoet.
Tokkie! Wat maak jy?! Nee, sê sy, ek was op pad na julle toe. Ek wou vir julle sê om vir my 'n pakkie NikNaks saam te bring, my foon se battery is pap. Weer eens is ons ongelooflik gelukkig om haar ongedeerd terug te hê.
Goed, nou moet Tokkie maar bedags in die huis toegemaak word, darem mét kos en water, en saans en naweke is sy vry.
Ek en Spruit gaan skool toe en werk toe in die wete dat Tokkie darem veilig in die huis is. Ons moet vir haar 'n radio'tjie kry, sê Spruit. Ja, sê ek, dan kan sy Siembamba luister terwyl ons weg is.
Teen drieuur die middag piep my foon. Dis die WhatsApp-groepie. Hier's alweer dieselfde hondjie by my huis. Kom haal haar asseblief, sê die vrou van nommer 123. Maar ek worry nie, want ek weet mos ons het vir Tokkie in die huis toegemaak. Daar's basies nie 'n manier waarop sy kan uitkom nie. Dit kan nie sy wees nie.
Maar hoe meer ons die foto's van die cute klein Jack Russelltjie bekyk, hoe meer besef ons dit ís Tokkie! Ek en Spruit spring in die kar en gaan haal haar. Die vrou is gelukkig gaaf, maar dink seker in haar agterkop, hierdie blerrie mense wat nie hulle diere kan oppas nie . . .
Ons ry huis toe. Tocchini het eenvoudig die kombuisvenster se blindings afgeruk en die venster netjies oopgemaak. Geen probleem. Die huiseienaars gaan nie baie beïndruk wees nie, die blindings is in hulle maai in.
Ons cable tie en tape die venster. Tokkie kan sekerlik nie dáárdeur kom nie! Meer nee, vir Tocchini is geen uitdaging te groot nie. Sy vreet eenvoudig haar pad deur die cable ties. Easy peezy.
Die huiseienaars (bless their souls nou maar vir ewig) sit sterker draad nóg hoër op teen die voorhek.
Nou wag ons in spanning vir Tocchini se volgende skuif. . .

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie