Trauma nu00e1 dogter se doodskoot
Trauma nu00e1 dogter se doodskoot

Trauma ná dogter se doodskoot

Die familie van 'n vrou wat in Januarie na bewering deur 'n Namibiese soldaat geskiet is, sukkel om die skerwe van hul lewens weer aan mekaar te las.
Maria Eiseb
Maria Eiseb - Die ma van wyle me. Zya Juliet Shane Rittmann (Koekie), wat na bewering in Januarie in Katutura deur mnr. Johannes Neuaka, 'n soldaat, met ’n 9 mm Makarov-pistool doodgeskiet is, leef in vrees.

Me. Lolla Rittmann het haar hart teenoor Republikein oopgemaak en gesê die dood van haar kind (25) “vat nou eers aan haar”. Die oorledene en Neuaka het 'n verhouding gehad.

Rittmann, bygestaan deur familie, vriende en kennisse in Wanaheda en ander dele van Katutura, beplan 'n optog na die landdroshof in Katutura waar Neuaka weer vandag op die moordklag teen hom moet verskyn.

Sy het aan Republikein gesê sy wil weet wat die polisie gedoen het nadat ’n vorige skietvoorval by haar huis waarby Neuaka na bewering betrokke was, aan hulle gerapporteer is.

Neuaka het Koekie in die verlede na bewering ook met ’n mes gesteek.

“Wat het van daardie sake geword? Wat het die polisie daarmee gemaak?” wil Rittmann weet.

Volgens haar het haar dogter en Neuaka reeds vyf jaar lank verhoudingsprobleme ervaar en het hy in die verlede vir Koekie met ’n pistool gedreig.

Neuaka het na bewering tydens dié voorval glo drie skote afgevuur en die oorledene het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak.

Die oggend van die moord het Rittmann (Lolla) saam met die oorledene (Koekie) op die stoep voor die huis gesit en gesels toe Neuaka na bewering daar opgedaag en vir Koekie geroep het, vertel Rittmann.

“Als het in ’n oogwink gebeur. Ek het gedink hy het haar teen die muur geklap, maar die volgende oomblik kry ek my kind waar sy in ’n plas bloed lê,” het die bedroefde ma gesê.

“Die skoot het nie ’n harde geluid gemaak nie. Dit het net soos ’n klapper geskiet, toe is my kind op die grond. Ek het eerste op my kind se lyk afgekom,” sê sy.

“Ek vrees vir ons lewens. My 12-jarige dogter het gestaan en gesien hoe haar ousus voor haar doodgeskiet is,” sê sy.

“My arme kind se skoolwerk het ook agteruitgegaan en ek weet nie hoe om dit ook nog te hanteer nie. Sy is heeltemal in ’n toestand,” sê sy.

Rittmann voel sy en haar gesin is nie veilig ná die voorval nie.

Haar kinders is onrustig en sukkel om te slaap, sê sy.

“Hulle ruk dan amper die hele nag.

“Kon hy daardie dag nie besef die kind sit en speel agter hom voor hy die ma geskiet het nie?” vra sy.

Die brandende vraag vir Rittmann is wat Neuaka se motief was om haar dogter te skiet. Die ma van vyf moes uit haar werk bedank om na haar kleinseun om te sien.

Hoofinsp. Kauna Shikwambi, woordvoerder van die Namibiese polisie, kon ondanks die verskaffing van saaknommers, nie bevestig of enige klagte voorheen teen Neuaka gelê is nie.

Net so kon die klerk van die strafhof, me. Evelina Nghiwilepo, nie rekords vind van enige van die sake wat glo in die verlede teen Neuaka aanhangig gemaak is nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!