Tree vir tree teen armoede
Tree vir tree teen armoede

Tree vir tree teen armoede

'n Australiër het sy hart op Namibië, sy mense en sy landskappe verloor.
Tanja Bause
Tanja Bause - “Namibiërs is sulke vriendelike en oop mense. Julle moet my belowe dat julle dit nooit sal verloor nie,” sê mnr. Matt Napier van Australië.
Napier stap tans van Noordoewer tot by die Epupa-valle.
Die doel van dié staptog van sowat 1 850 kilometer is om geld in te samel vir twee projekte wat armoede beveg.
Napier se Namibiese staptog het twee weke gelede afgeskop. Hy het reeds by Aussenkehr, Rosh Pinah, Aus, Lüderitz en Solitaire aangedoen.
Tans is Napier op pad Walvisbaai en Swakopmund toe.
Sy vrou, Wendy, vergesel hom en bestuur die ondersteuningsvoertuig.
Sy is ook verantwoordelik vir kos, die behandeling van blase en om almal op sosiale media van Napier se vordering in te lig. Die egpaar kamp gereeld onder die sterre.
Walk to a Better World is 'n bewusmakingsveldtog van die liefdadigheidsorganisasie Towards a Better World, waarvan Napier en Wendy die stigterslede is.
Hulle werk saam met 'n span om geld in te samel en bewustheid te skep oor volhoubare ontwikkelingsprojekte dwarsoor die wêreld.
Napier het 'n passie vir die uitwissing van armoede en om van die wêreld 'n beter plek te maak.
Soos altyd stap hy met 'n sokkerbal onder die arm.
Soos sy staptog vorder, deel hy 200 sokkerballe aan skole uit.
Verlede jaar het hy 2 300 kilometer van Walvisbaai af na Maputo in Mosambiek gestap, waartydens hy US$62 000 vir vier projekte ingesamel het.
Dit was die eerste keer dat hy in Namibië gestap het en ook 200 sokkerballe uitgedeel het.
Napier sou aanvanklik deur Angola gestap het, maar is aangeraai om eerder Namibië te oorweeg.
“Ek en Wendy het 'n voertuig in Johannesburg gehuur en Namibië toe gery. Kort ná ons aankoms in die land het ek vir haar gesê: 'Dit is ons land, hier moet ons kom bly'.
“Jul land is ongelooflik mooi en die mense is wonderlik. Ons was ook so in Australië. Ons het omgegee vir mekaar en ons was vriendelik. Maar ons het dit verloor in die stryd om aardse besittings. Ek hoop julle sal jul omgee vir jul medemense en jul vriendelikheid nooit verloor nie,” het hy gesê.
Die sokkerballe is deur die 12-jarige Mac Millar geborg.
Millar is 'n entoesiastiese sokkerspeler wat oortuig is daarvan dat alle kinders die reg het om sokker te kan speel.
Hy het 'n projek genaamd Football. Play it Forward. begin en het tot vandag 4 000 sokkerballe in 22 lande uitgedeel.
Met sy huidige staptog ondersteun Napier Caritas Australia en Empower Malawi.
Caritas Australia is 'n internasionale ontwikkelingsprojek van Australië se Katolieke Kerk.
Dit help om armoede in meer as 30 lande te beveg. Empower Malawi ondersteun en ontwikkel gemeenskappe in Malawi en Sri Lanka.
In 2012 het Napier 3 800 kilometer per fiets deur Australië afgelê as deel van die Make Poverty History-veldtog.
'n Jaar daarná het hy 'n sokkerbal 4 500 kilometer ver van Perth af na Sydney in Australië gebons terwyl hy gestap het.
Mense wat die staptog wil volg of meer daaroor wil uitvind, kan die Face­book-blad “walktoabetterworld” of die webblad walktoabetterworld.com besoek.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!