Treine nie gereed vir passasiers
Treine nie gereed vir passasiers

Treine nie gereed vir passasiers

Kinders van ’n primêre skool in die Suide het in Windhoek voor dooiemansdeur gekom, aangesien al TransNamib se passasierstreine nog nie operasioneel is nie.
Tanja Bause
Tanja Bause – Talle ouers van kinders wat gereeld met die trein Suide toe reis om op Vaalgras skool te gaan, het Sondagaand by die treinstasie in Windhoek voor dooiemansdeur beland.

Tans is daar geen dienste vir passasierstreine nie, omdat TransNamib nog nie gereed is vir die hervatting van dié dienste nie.

Volgens mnr. Venacius Kulola, die sekretaris van die Ecumenical Community School Koichas op Vaalgras, ry die primêre skoolkinders sedert die skool in 1979 gestig is per trein van en na die skool.

“Ons is hier met sowat 200 kinders wat van Windhoek en die Noorde kom en skool toe moet gaan. Hulle moes soos gewoonlik al Sondagaand gery het, sodat hulle Maandag by die skool kon wees. Ons ry elke keer met die trein en ons het nog nooit probleme ondervind nie. Nou sê hulle daar is geen passasierstreine nie.
“Ons kinders kom uit arm huishoudings en baie van die ouers het reeds geld betaal om die kinders tot in Windhoek te kry. Hulle het nie die geld om hulle verder met busse te stuur nie,” het hy gesê.

Volgens me. Saara Munedimba, ’n ma van een van die kinders, ry die kinders per trein tot op Tses; vandaar af word hulle met die skoolbus sowat 80 kilometer na Vaalgras vervoer.

“Dit kos N$75 vir ’n kind onder 12 jaar en N$150 vir ’n kind ouer as 12 om met die trein te ry; wat baie goedkoop is. Die ouers van meeste van ons kinders is baie arm en hulle het nie geld om hulle met bussies te laat ry nie,” het Kulola gesê.

Munedimba het bygevoeg van die ouers is bang om hul kinders met die bussie te laat ry.

“Ons weet almal hoe gevaarlik dit deesdae is om met die bussies te ry. Ons paaie is nie veilig nie en die trein was altyd veilig en goedkoop.”

“Ons het soos gewoonlik Sondag hier by die treinstasie met ons kinders opgedaag, met hul bagasie en kos vir die reis, net om te hoor daar is nie treine nie. Daar is al kinders by die skool wat vanaf die Suide kom en ons kinders wat al so lank uit die skool uit is, kan nou weer nie skool toe gaan nie, omdat die trein nie ry nie. Ons is kwaad en teleurgesteld. Ons wil net ons kinders by die skool kry,” het ’n pa gesê.

Volgens me. Abigail Raubenheimer, bestuurder vir korporatiewe kommunikasie, is alle passasierstreine in Maart, toe die noodtoestand afgekondig is, gestop en slegs goederetreine is nog operasioneel.

“Ons moet voorberei vir al die vereistes betreffende die aantal passasiers, handreinigers en ons moet ’n passasierslys saamstel voordat die treine weer sal ry. Ons sal die publiek op ons sosialemediaplatforms inlig wanneer die passasierstreine weer operasioneel is, maar vir nou kan ek nie ’n datum gee nie. Die ouers moet ook self alternatiewe vervoer vir hul kinders reël,” het sy gesê.

Bus

Kulola het vir mnr. Mike Nowaseb gekontak wat ’n busdiens het en om hulp gevra.

“Ek het al gedurende die hoktyd vir van die kinders soontoe gery en dus is ek gevra of ek weer kan help. Ek het my gewone prys verlaag en vra nou N$220 per kind vanaf Windhoek tot by die skool op Vaalgras.”

Kulola is besig om die geld wat die ouers vir die treinkaartjie betaal het terug aan hulle te gee.

“Ek skryf die ouers se nommers neer en gee vir hulle die geld terug. Hulle kan dan na Mike se besigheid gaan en die res van die geld betaal en dan kan die kinders op die bus klim. Die eerste bus sal vandag vertrek en hopelik teen Donderdag is al die kinders weer op Vaalgras en kan skool toe gaan.”
- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!