Turkse sakeleiers besoek Namibië
Vennootskappe in die private sektor het ten doel om ekonomiese groei in beide lande te ondersteun.
br >
Augetto Graig - Die afvaardiging van besigheidsleiers uit Turkye vlieg vandag (1 Junie) terug na Turkye ná hul besoek aan Namibië vrugte afgewerp het.
Die besoek was op uitnodiging van die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, asook die Namibiese Kamer van Handel en Nywerheid (NCCI), en volg op die ondertekening van ’n ooreenkoms in 2016 tussen die Namibiese beleggingsentrum (NIC) binne die ministerie en Turkye se raad vir buitelandse ekonomiese betrekkinge (DEIK).
Woensdag het die Namibië-Turkye-besigheidsraad vir die eerste keer vergader.
Me. Berin Tulun, Turkye se ambassadeur in Namibie, het gesê handel tussen die twee lande is nie op ’n aanvaarbare vlak nie.
“Die syfers weerspieël nie die ware potensiaal nie,” het sy gesê.
Volgens Tulun beskik Namibië en Namibiërs oor die potensiaal om in Afrika uit te blink.
Terselfdertyd verteenwoordig Turkye ’n reusemark en die land se ekonomie is die twaalfde grootste ter wêreld en sesde grootste in Europa.
’n Sterker handelsvennootskap met Namibië is deel van Turkye se planne vir Afrika, het Tulun gesê.
“Afrika is besig om homself te hervestig,” het sy van ekonomiese groei op die vasteland gesê.
“Ons deel die visie van Agenda 2063 en is al sedert 2008 ’n strategiese vennoot van die Afrika-unie (AU),” het sy gesê.
Tulun het daarop gewys dat handel ten bedrae van miljarde Amerikaanse dollar tussen Turkye en Afrikalande reeds bestaan. Ook het Turkye beleggings van miljarde Amerikaanse dollar in Afrika gemaak, en is tans by verskeie projekte op die vasteland betrokke.
“Turkye se verhouding met Afrika is nie een van skenker en ontvanger nie. Turkye het geen koloniale verlede nie. Sedert die Verenigde Nasies (VN) met dekolonisering begin het, ondersteun Turkye Afrika se mense,” het sy gesê.
Tulun het genoem die Turkse samewerkings- en ontwikkelingsagentskap (Tika), wat in Windhoek gevestig is, bevorder handel in die streek en besighede raak deur middel van hierdie agentskap by projekte oraloor suidelike Afrika betrokke.
Mnr. Hatem Yavuz, Namibië se erekonsul vir Turkye, het Namibiese sakelui by die geleentheid aangemoedig om vennootskappe met sakeleiers uit Turkye aan te gaan.
“Hulle het die kennis en die ervaring. In die mediese bedryf is Turkye byvoorbeeld onder die topvier ter wêreld. Wat die konstruksiebedryf betref, is Turkye s’n die grootste naas China.
“Turke is baie lief vir handel dryf en entrepreneurs geniet geen staatsondersteuning nie. Turkye is ’n land waar dit alledaags is om te bou, te bedryf en te oorhandig. Die private sektor se betrokkenheid by projekte voeg waarde daaraan toe,” sê hy.
Turkye se vervoerbedryf is ook gesond en teen Oktober vanjaar sal die grootste lughawe ter wêreld daar gebou wees, het Yavuz gesê.
Volgens die NCCI se waarnemende voorsitter, me. Charity Mwiya, dui die afwesigheid van staatsondersteuning vir Turkse sakelui wat in die buiteland besigheid doen aan dat hulle op gelyke voet met Namibiese sakelui is.
“Dis nie soos die onregverdige kompetisie met ander lande se ondernemings wat deur hul regerings gefinansier word nie,” het sy gesê.
Me. Günner Diker, voorsitter van die Namibië-Turkye-besigheidsraad, het gesê Turkye se belangstelling in handel met Afrika volg op die land se ekonomiese prestasies.
Vanjaar sal ’n derde van die 43 besigheidsrade vir samewerking op handelsgebied, wat Turkye wêreldwyd in die lewe geroep het, handel met Afrikalande ondersteun.
Me. Angela Dau Pretorius, adjunkdirekteur van beleggingsdienste by die NIC, sê Namibië het ekonomiese en sakeverhoudings nodig.
“Ons ekonomie is nog nie baie divers nie en waardetoevoeging sal die land betekenisvol bevoordeel. Ons het wye ekonomiese groei nodig,” het sy gesê.
“Namibië verleen ook toegang tot suider Afrika, dus moet moontlikhede oorweeg word. Namibië is dié plek vir besigheid,” het Pretorius gesê.
Die 14 Turkse maatskappye wat die land besoek het, sluit in verteenwoordigers op die gebied van toerisme, konstruksie, behuising, krag, mynbou, vleis en vleisprodukte, kos, koueberging, opvoeding, gesondheid en gesondheidstoerisme, vervoer, voertuie en infrastruktuur.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie