Turkye: twee wat glo aanval beplan, doodgeskiet
Die Islamitiese Staat (IS) sit glo agter onlangse terreuraanvalle in Turkye.
Die polisie in Turkye het twee militante van die Islamitiese Staat (IS) in ’n klopjag by ’n woonstel in die hoofstad, Ankara, doodgeskiet, berig Reuters. Die twee was volgens die owerhede besig om ’n aanval te beplan. Die polisie het ’n wenk gekry by ’n verdagte wat in aanhouding in Istanbul is. Hulle het ook op vuurwapens en handgranate by die woonstel beslag gelê. Die klopjag is uitgevoer etlike ure voor die regerende AK-party se kongres in Ankara, waar pres. Tayyip Erdogan na verwagting as partyleier verkies sou word. IS sit volgens die owerhede agter die talle terreuraanvalle wat onlangs in Turkye uitgevoer is, waaronder die aanval by die hooflughawe in Junie 2016 toe 40 mense dood is, en ’n skietvoorval op Nuwejaarsdag in ’n nagklub waartydens 39 mense dood is. - Netwerk24/Reuters
Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie