Twee sterf in aardbewing in Nieu-Seeland

Twee mense is tot dusver dood in die kragtige aardbewing wat die Suid-Eiland Maandagoggend geskud het.
Estelle de Bruyn
Hoewel die aanvanklike waarskuwings van ’n tsoenami landwyd in Nieu-Seeland teruggetrek is nadat ''n aardbewing wat 7,8 op die Richterskaal geregistreer het die land getref het, het die regering inwoners gemaan om weg te bly van kusgebiede.

Inwoners van Wellington op die Suid-Eiland is ook versoek om die sakekern te vermy.

John Key, Nieu-Seelandse eerste minister, het gesê nog sterftes kan ná die kragtige skudding verwag word.

Key het aan joernaliste gesê hulle volg nog die besonderhede oor die noodlottige gevalle op.

Militêre helikopters is na die kusgebied en toeristedorp van Kaikoura, sowat 91 km van die middelpunt van die aardskudding, gestuur. Dit is in die noord-noordooste van Christchurch op Suid-Eiland.

Daar is kommer oor inwoners en toeriste in die dorp nadat dit weens die gevolge van die skudding afgesny is. Amptenare hoop dat hulle teen dagbreek ’n beter prentjie van die omvang van die skudding kan vorm.

Jan-Harm Steenkamp, ’n Suid-Afrikaner wat in Nieu-Seeland woon, sê dit was ’n aardige ondervinding om te voel hoe sy huis onder hom kraak en buig.

“Ons het van die aardskudding wakker geword. Alarms het oral afgegaan. Die hele buurt se mense het buite hul huise gestaan.” Volgens hom is hulle te ver van die middelpunt om nadelig geraak te word.

Mense in Wellington is gewaarsku om gister tuis te bly terwyl die omvang van die skade aan geboue, paaie en brûe vasgestel word.

Volgens die New Zealand Herald is meer as 100 naskokke gevoel.

Volgens die koerant is die een oorledene aan ’n hartaanval dood en die ander persoon het in ’n geskiedkundige gebou omgekom.

Die grootste skade is in Wellington aangerig waar paaie en geboue beskadig is.

Skole in Noord-Canterbury en Wellington was gister nie oop nie.

Elektrisiteitstoevoer is in baie gebiede onderbreek en sommige hoofweë en paaie is gesluit.

Die beskerming- en nooddienste van Dunedin het intussen die tsoenami-waarskuwing afgeskaal.

Mense moet wel steeds paraat wees, van strande wegbly en op naskokke voorberei.

Mense wat laagliggende gebiede verlaat het, kan egter na hul huise terugkeer. – Reuters, New Zealand Herald, Bloomberg, News24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!