Twintig-twintig
Twintig-twintig

Twintig-twintig

Lloyd Zandberg
Die week tussen Kersfees en Nuwejaar tel nie. Dit voel vir my of dit nie bestaan nie. Maar dít maak ook nie sin nie, want obviously doen dit. Ek meen, dis op elke kalender in die wêreld. Dis 'n oomblik in tyd wat geensins sinmaak nie.

Jy weet nie watter dag dit is nie, jy vergeet van die afgelope jaar en dink nog nie aan jou nuwejaarsvoornemens nie. Dis byna of jy nie bestaan nie. Dit maak nie saak hoe laat dit is nie. Jy worry nie oor jou bankbalans, gewig of eetgewoontes nie. Niks, maar niks pla jou nie. Of is dit net ek? Dink daaraan. Wat het jy die 27ste gedoen? Het ek ooit tande geborsel?

Wie het die oggend van die 28ste gesê my kop pyn, en ek is babelas? Die 29ste het niks lewensveranderend opgelewer nie en die oggend van die 30ste was jy nie seker of dit vandag of môre Nuwejaarsdag is nie.

Die 31ste besef jy Desember is daarmee heen en môreoggend begin nog 365 dae om iets te doen, jou lewe te verander, te verbeter, dinge vanuit 'n ander hoek te benader. En dan, soos in my geval, is jy positief en dink aan al die fasette van jou daaglikse bestaan wat jy gaan redigeer, verbeter en afskakel, toemaak.

Dit gaan goed vir 'n wyle, en die werklikheid van tyd skop in, maar nog nie genoeg vir jou om iets daaraan te doen nie. Dan, ewe skielik, sonder enige waarskuwing, is die eerste week van Januarie oor die wenstreep. Nou wat nou? Moenie stres nie, bra, Januarie is so lank soos 'n kameelperd se tong, jy't nog baie tyd om jou skoene af te vee en jou lewe reg te ruk. Maar dit gebeur alles te vinnig.

En 2020 was veronderstel om jou jaar te wees. En nou is die begin al klaar rocky.

Gevolglik het jy geen ander keuse as om iewers te gaan sit en te besluit wat jy in 2020 alles wil bereik nie. Dis nou maar wat dit is, en hoewel ons almal weet meeste van die tyd (ek praat juis hier met myself) ons nie eers by die eerste drie punte op die lysie kom nie, help dit tog om soortvan rigting te kry. Partykeer is dit genoeg.

Hiermee my lysie van dinge wat ek in 2020 wil verander of aanpak:

1) Ek wil dié lysie eerder korter hou. Dit help nie ons skryf duisende goed neer nie. Ek verander of maak eerder vyf goedjies beter as om 739 goed half aan te pak.

2) Ek wil meer water drink. In die winter ook.

3) Minder vloek. Dis moeilik, maar ek het vriende nodig.

4) Leer swem.

5) Ek wil weer skilder. In swart en wit. Gesigte en hande. Die twee dinge wat alles van die mens verklap.

6) Ek wil gereeld sosialemediaverlof insit. Geen Facebook, geen Instagram, geen e-goeters nie. Boeke. Mense. Regte gesprekke. Oogkontak.

7) Gereeld in die Kaap gaan kuier, by my ma-hulle. Dis mooi daar.

8) My kitare weer aan die brand speel.

9) Optree. Meer optree. Oraloor die land. Selfs op Sesfontein.

10) Ek wil etes aanbied. Ek hou van mense. En kos. Die kombinasie is hemels. Ek het kristal- wynglase wat liefde soek.

11) My derde boek begin skryf. En die bekendstelling van my tweede een ten volle geniet.

12) Meer lees. Ek is versot op die idee dat daar fiktiewe wêrelde bestaan waar karakters woon.

13) Finaal besluit of ek weer 'n TV soek.

14) Vroeër gaan slaap.

15) My gunstelingfoto's laat raam.

16) My duimnaels laat groei. In tye van nood is hulle die eerstes om te groet.

17) My stresvlakke beter beheer en monitor.

18) Meer “dankie”, “jammer”, “asseblief” en “plesier” sê.

19) Minder laat wees.

20) Ek wil ten minste een maal per week na die bogenoemde lys kyk.

Wat is dit wat jy vir 2020 beplan?

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!