Uitspraak oor moord kom in November
Uitspraak oor moord kom in November

Uitspraak oor moord kom in November

Die Aranos-boer wat teregstaan op 'n moordklag nadat sy vrou tydens 'n skietvoorval gesterf het, sal in November sy lot hoor.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Regsverteenwoordigers het Maandag hul slotbetoë in die verhoor van mnr. Willem Barnard (64) voor regter Naomi Shivute gelewer.

Barnard het vroeër vanjaar in sy eie verdediging getuig hy en sy vrou, me. Anette Barnard (55), het saam 'n hele bottel brandewyn en 'n gedeelte van 'n tweede bottel gedrink die dag en die aand voor haar dood, en hulle het die aand televisie gekyk voordat hy aan die slaap geraak het.

Hy het ook getuig hy was op drie verskillende tipes voorskrifmedikasie tydens die voorval.

Die staat beweer Barnard het sy vrou vermoor deur haar gedurende die nag van 9 tot 10 April 2010 op hul plaas Choris in die Aranos-area in die kop te skiet.

In 'n pleitverduideliking wat in Oktober 2014 aan die hof gelewer is, het Barnard skuld ontken op die moordklag teen hom. Hy het daarin gesê hy het die aand van 9 April voor die televisie in die paartjie se leefkamer aan die slaap geraak, in die middel van die nag wakker geword en sy vrou in 'n plas bloed aangetref.

'n Rewolwer het op die vloer tussen hom en sy vrou gelê.

Staatsadvokaat Cliff Lutibezi het verlede Vrydag betoog Barnard moet aan moord skuldig bevind word omdat omstandigheidsgetuienis daarop dui hy het sy vrou geskiet.

Lutibezi het ook na getuienis van Barnard se skoonseun verwys, wat getuig het Barnard het hom ná die noodlottige skietvoorval gebel en meegedeel hy het sy vrou geskiet.

Lutibezi het verder aangevoer Barnard se verweer dat hy só deur alkohol en medisyne bedwelm was dat hy nie die gebeure van daardie nag kan onthou nie, nie aanvaar kan word nie.

Volgens Lutibezi is iemand wat 'n telefoonoproep kan maak en die deur vir die polisie kan oopmaak, nie so dronk dat hy nie weet wat hy doen nie.

Advokaat Louis Botes het aan die begin van sy betoog namens Barnard genoem sy kliënt bevind hom in 'n kwesbare posisie omdat hy min van die noodlottige nag kan onthou.

Hy het aangevoer daar bestaan 'n redelike moontlikheid dat me. Barnard haarself geskiet het en Barnard dus nie skuldig bevind kan word nie.

Volgens Botes het dr. Paul Ludik, 'n forensiese wetenskaplike, getuig dit is meer waarskynlik dat me. Barnard haarself geskiet het.

Botes het genoem bloedspatsels en geweerkruit was aan albei haar hande, wat kan aandui sy het haarself geskiet.

Indien die regter vind Barnard het wel die noodlottige skoot afgevuur, kan hy egter nie vir sy dade aanspreeklik gehou word nie, het Botes betoog.

Volgens Botes was Barnard erg besope ten tyde van die skietvoorval en die medisyne wat hy terselfdertyd geneem het, sou hom só beïnvloed het dat hy nie vir sy optrede verantwoordelik gehou kan word nie.

Mnr. S.C. Garbers en adv. Louis Botes verteenwoordig Barnard terwyl staatsadvokate Palmer Kumalo en Cliff Lutibezi namens die staat optree.

Regter Shivute sal haar uitspraak op 24 November lewer en Barnard se borgtog sal tot dan verleng word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!